NewsNews

Musiekseminaar-belewenis in die Koepel

By die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel word reeds sedert 2008 kursusse, meestersklasse en konsertprojekte in Vroeë Musiek aangebied. In hierdie vertakking van die klassieke musieklewe word die instrumente wat in die tyd van die ontstaan van die musiek gebruik was, asook die musiekvoorstellings en uitvoeringsideale van die tyd, gebruik …

By die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel word reeds sedert 2008 kursusse, meestersklasse en konsertprojekte in Vroeë Musiek aangebied. In hierdie vertakking van die klassieke musieklewe word die instrumente wat in die tyd van die ontstaan van die musiek gebruik was, asook die musiekvoorstellings en uitvoeringsideale van die tyd, gebruik om die musiek in ’n nuwe gedaante te laat klink.
Dit is in teenstelling met die gewone praktyk om alle musiek met die moderne instrumente en ons huidige uitvoeringsgebruike uit te voer, onafhanklik van die musiektradisies wat in die tyd geheers het toe dit gekomponeer is.
Vroeë Musiek is in die westerse kunsmusiekwêreld reeds goed ingeburger, maar in Suid-Afrika nog onbekend, by gehore sowel as musici. Deur die kursusse wat ongeveer twee of driemaal per jaar by die Koepel Kunstesentrum aangebied word, is reeds ’n kern van kundige musici en sangers opgebou wat gereeld uitvoerings aanbied. Die klem by hierdie uitvoerings val gewoonlik op musiek van die sewentiende en agttiende eeue – dit is musiek van die vroeg- en hoogbaroktyd.
Die beginsel is egter van toepassing op alle nie-hedendaagse musiek; dit gaan in wese daarom dat die werke binne die musikale sinsverband van die tyd van sy ontstaan uitgevoer word. So is byvoorbeeld by die laaste projek van die Kunstesentrum, die Requiem van Wolfgang Amadeus Mozart op historiese instrumente van die klassieke tydperk uitgevoer, in konserte wat in Vredefort en Pretoria plaasgevind het.
Aan die einde van Julie word ‘n konsertprojek met swaartepunt by die musiek van Heinrich Schütz aangebied deur die Duitse tenoor en dirigent, Florian Cramer van Freiburg. Schütz was in sy tyd – hy het tussen 1585 en 1672 gelewe en 86 jaar oud geword – die mees vooraanstaande komponis in Duitsland. In hierdie projek word ’n  program van kerkmusiek met ’n  groot verskeidenheid van besettings ingestudeer, van werke uit die versameling Geistliche Konzerte vir solostem en klein instrumentaalensemble, tot groot koorwerke vir twee en drie kore uit die Symphoniae Sacrae.
Die instrumente in die ensemble sluit strykers sowel as koperblasers in: ’n  stel baroktrombone bestaande uit ‘n alt, tenoor en bastromboon. Verder is ‘n rariteit die kornet, wat as sopraaninstrument in hierdie trio van trombone gebruik word. Dit is ‘n blaasinstrument wat in die Renaissance en vroegbarok as soloinstrument selfs meer gewild as die viool was.
Soos by die blokfluit, word die verskillende toonhoogtes voortgebring deur gate  met die vingers oop en toe te maak, maar die klank word soos by die trompet met die lippe voortgebring. Verder word die dulsiaan as bas-instrument gebruik. Dit is die voorganger van die hedendaagse fagot, en word ook met ’n dubbelriet geblaas.
Aan die einde van die projek word twee konserte aangebied – in die NG Kerk in Vredefort op 5 Augustus om 18:30, en in die Lutherse Johanneskirche in Pretoria-Oos op Sondag 6 Augustus. Kaartjies is by die deure beskikbaar. Vooruitbespreking is onnodig aangesien beide kerke baie groot is. Kaartjies vir die Vredefort konsert kos R100 per persoon en meer inligting is beskikbaar op die webwerf www.deelfontein.co.za onder Gebeure.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button