Mathys se motorfiets bring groot vreugde vir dapper Divan
Dis nie aldag dat ’n man 18 op die 18de word nie, maar vir Divan Hugo van Parys was dié “kroon-verjaardag” soos daarna verwys word, vanjaar beskore toe hy 18 geword het op 18 Januarie. En niemand minder nie as die sanger Matthys Roets was daar vir sy verjaardag-opskop. Vir Divan is Mathys ’n groot …
Dis nie aldag dat ’n man 18 op die 18de word nie, maar vir Divan Hugo van Parys was dié “kroon-verjaardag” soos daarna verwys word, vanjaar beskore toe hy 18 geword het op 18 Januarie. En niemand minder nie as die sanger Matthys Roets was daar vir sy verjaardag-opskop.
Vir Divan is Mathys ’n groot inspirasie. Hy het Divan vroegdag kom verras met ‘n rit deur die dorp op sy spesiaal aangepaste motorfiets. Die motorfietsryery het Divan só beïndruk dat hy nou ook ’n motorfiets wil hê soos “Oom Mathys”!
In 2016 het Mathys Divan in die hospitaal besoek ná sy heupvervangingsoperasie en toe al belowe dat hulle nog eendag gaan ski in Lesotho, of “off road” 4 x 4 pret met die rolstoele gaan hê as die weer lekker warm is.
Divan ly aan ’n baie raar siektetoestand wat in so min as 70 gevalle wêreldwyd aangemeld is. Mohr Tranebjearg-sindroom is ’n degenaratiewe siekte wat op die ouderdom van 3 jaar by Divan gediagnoseer is. Op die ouderdom van ’n jaar het Divan begin bril dra, en vandat hy 3 jaar oud is, moes hy ook staatmaak op ’n gehoorapparaat.
Mettertyd kon Divan nie meer sonder hulp loop nie, en kom hy met ’n rolstoel oor weg. In 2016 moes hy ’n rugoperasie ondergaan om skade te herstel as gevolg van skoliose en kifose wat die funksionering van sy longe, hart en niere nadelig geraak het. Daarna het die heupvervanging gevolg.
Al is Mathys en Divan albei van hul rolstoelwiele afhanklik, deel hul veel meer as net die glimlag waarmee hulle die uitdagings wat oor hul pad kom, aandurf.
Ma Juanita sê dankie aan elkeen wat Divan se verjaardag-opskop moontlik gemaak het en die aand daar was. Dit het hierdie dapper jong man se groot dag ekstra spesiaal gemaak.
Divan moet weer in Februarie vir sy opvolgondersoeke by sy onderskeie dokters gaan.






