NewsNews

Kompleks

Liewe Persoon, Het ek jou al vertel van my huisie in die lug? Die een in die kompleks? Ek noem dit my weeksnes, want naweke en vakansies spandeer ek mos by my hartshuis (lees: ma-se-plek). Anyway. So ‘n kompleks-blyery vat nogals aan ‘n mens. Ek bedoel: dit is nie net ‘n kwessie van intrek en bly …

Liewe Persoon,

Het ek jou al vertel van my huisie in die lug? Die een in die kompleks? Ek noem dit my weeksnes, want naweke en vakansies spandeer ek mos by my hartshuis (lees: ma-se-plek).

Anyway. So ‘n kompleks-blyery vat nogals aan ‘n mens. Ek bedoel: dit is nie net ‘n kwessie van intrek en bly nie. Nee. Dit is ‘n komplekse issue… en dit is seker waarom hulle dit ‘n ‘kompleks’ noem. Vat nou maar die volgende uhm, maniertjies van my mede kompleks-bewoners:

  • Ek vermoed dat die  tannie en oom wat in die grondvloer-eenheid bly albei ‘n sagte dieët volg. Jy ruik dag en nag die reuk van gekookte kool, boontjiesop en – ek vermoed, gestoomde vis. Dis nie heeltemal onaardig nie, maar ek sou so nou en dan die reuk van ‘n gebraaide tjoppie of ‘n varsgebakte brood waardeer. (Sê ek terwyl ek my 2 Minute Noodles in die mikrogolf prop).
  • My buurman op die eerstevloer is beslis ‘n kontrakteur iewers in Afrika  óf ‘n undercover lid van die Krugersdorp-Wes mafia,  te oordeel aan die modder wat soos ‘n tweede laag verf aan sy 4×4 klou en die wrap around sonbril wat dag en nag op sy bakkies rus. En nee. Hy is nie ‘n boer nie. Altans, ek het hom nog nooit in ‘n khaki- of demin kortbroek en ‘n two-tone Senwes hemp gesien nie. En sy 4×4 (konstruksiewerker?) is van Franse afkoms (mafia?)… En anyway, net Nicholis Louw dra uit vrye keuse bug crushers – aka steel capped bootse. Dié buurman verdwyn klokslag vir twee weke elke maand. As hy dan wel terug is, dan braai hy ‘n vleisie op sy balkon. Net so, all by his lonesome.
  • Bo my het ‘n nuwe jong paartjie ingetrek. Ek vermoed hulle samesyn is óf te danke aan ‘n vrolike (en vryerige) verlowing óf die egpaar is elk vars van die rak na ‘n ernstige verhouding en is daarom besig om hul tweede kans met oorgawe te lééf. Ek sê vir jou, hulle klou aan mekaar soos twee nat magnete! Hoe weet ek? Wel, elke liewe aand geniet hulle die stilte voor my kombuisvenster oppad na hulle (liefdes)nes. Ek dink ernstig daaroor om die Hollandse kant voor my kombuisvenster met ‘n stuk plywood te vervang.
  • Langs die vryers – maar steeds bo my, is daar dan twee vroue. Susters. Hulle skuif hulle plekkie elke aand. Ek vermoed hulle speel Twister óf leef minimalisties en probeer om  feng shui in hul sitkamer te bemeester. Dit kan miskien nog geduld word, maar een van die susters dra pal hakskoene. Dit is voetstappe van vroeg tot laat. Word haar voete nie moeg nie? Sy sukkel beslis nie met bunions of eelte nie. Miskien is hulle loopplankmodelle en skuif hulle elke aand die meubels weg sodat hulle kan oefen om te loop? Miskien het een ‘n nuwe fitbit vir Krismis gekry en voel sy verplig om elke dag 40 000 treë te loop.
  • In die ry eenhede voor my kamervenster bly daar ‘n knapie van so twee- of drie jaar oud. Sy ma werk hard en as sy smiddae by die huis kom, dan sit sy met ‘n rooietjie in die hand op die grasperk. Dit is dan wanneer boetman sy plastiese scooter met mening oor die plaveisel laat sing. Sing? Nee! Dit klink omtrent soos donderweer wat uit die verte aangerol kom… Pla dit haar nie? En die passie waarmee daai laaitie die scooter skop voorspel vir hom ‘n toekoms as óf ‘n langafstand atleet óf as get away driver vir ‘n bende bankrowers.
  • Raak dit tyd vir 7de Laan, dan weergalm dié kenwysie so deur die kompleks jy sal verskoon word as jy dink jy is straks deel van die live audience. Dieselfde geld vir Noot vir Noot. Dit voel kompleet asof Johan Stemmet neffens jou op die bank sit terwyl hy kontantnote vir musieknote ruil.

Vir my as enkeling is dié woelinge soms net een te veel en smag ek na ‘n salige stilte. Aan die anderkant is dit amper soos ‘n soort berusting; die wete dat ek nie in my alleenheid oorgelewer is nie (ek is mos van nature verskriklik bang).

My weekshuis verskaf my plesier én frustrasie. Ek voel tuis én volksvreemd in dieselfde asem. Ek lag oor my bure se mannewales én voel lus om as singleton hartstogtelik aan die tjank te gaan elke keer wanneer die Vrolike Verliefdes so hartstogtelik van mekaar afskeid neem (onder die stoeplig reg voor my kombuisvenster). Ek raak aan die kwyl as my buurman braai én raak bleek om die kiewe as die oom en tannie aan die stoom raak (dis nou die vis, en nie in vlees nie).

Dit is ‘n komplekse affêre, sê ek jou.

Kompleks!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button