
’n Baie spesiale ‘Colour Run’ word op Saterdag 8 September by die Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark gehou. Dit is ten bate van die sanger Adam Barnard, van Parys, wat die afgelope paar jaar aan nierversaking ly.
Nadat Adam ’n groot deel van 2017 in die hospitaal spandeer het, en ook vir vier maande van ‘n rolstoel gebruik moes maak, is hy nou weer op die been.
Na baie fisioterapie en oefening tuis het hy herstel van die neuropatie wat hom van die rolstoel afhanklik gemaak het, en word hy elke dag sterker.
Dit is ook nou ‘n jaar sedert Adam se ma, Christie, in ‘n kop-aan-kop botsing oorlede is. Sy was op pad na hom om hom vir dialise in Potchefstroom te neem. Christie was ‘n dinamiese mens en het haar dood ‘n groot leemte gelaat by haar familie.
Adam het intussen ‘n nierskenker gekry en toetse word nou gedoen. Dit is egter ‘n tydsame proses. Adam ontvang tans drie keer per week dialise by die dialise-eenheid in Parys. Dit verseker dat hy meer tyd saam met sy dogtertjie kan spandeer en kan oefen om sterk te word vir die oorplanting. Die hoop is dat die oorplanting dalk nog vanjaar sal plaasvind.
Almal wat wil help om ‘n verskil in Adam se lewe te maak, word genooi om in te skryf vir die ‘Colour Run’. Inskrywings is aanlyn beskikbaar by www.spectrumsport.co.za
Die aktiwiteite skop om 10:00 die dag af en elke persoon wat voor 24 Augustus inskryf, kry ‘n gratis colour run bemarkings T-hemp en ‘n sakkie kleurpoeier. Deelnemers wat na 24 Augustus inskryf, ontvang ‘n wit T-hemp en kleurpoeier. VCR gaan die dag daar wees asook die orgaanskenkervereniging om groter bewustheid te skep rondom orgaanskenking.
Daar sal stalletjies wees waarby rondgesnuffel kan word, en belangstellende uitstallers is welkom. Besighede of persone wat belangstel om plakkate of kleurpoeier vir die kleurstasies te borg, kan Kristelle by 082 333 8823 kontak. Indien jy meer wil uitvind oor die dag of enige vrae het, kontak gerus vir Sybil by 074 761 8458, of Karien by 082 974 0414, of stuur e-pos na abcolourrun@gmail.com