NewsNews

Dapper ‘kampioen’ wil wenhou slaan teen bokswêreld se groot name

Ten spyte van sy gesondheidsuitdagings is Divan se glimlag sy grootste getuienis van die positiewe gesindheid waarmee hy elke dag aanpak.

Divan Groenewald sal in Oktober in die bokskryt teen groot name in die bokswêreld te staan kom. Dit nadat hy só ’n groot indruk op Impact Boxing Fitness in Vanderbijlpark gemaak het, dat hulle eersdaags na dié dapper jongman van Parys sal uitreik met ’n Box & Dine geleentheid op 6 Oktober.
Groot name in bokskringe sal die geleentheid bywoon, waaronder die Suid Afrikaanse trots, Hekkie Budler, wat tans die wêreldkampioen in sy gewigsklas is. Hekkie het onlangs die IBF World Light Flyweight-titel, die WBA Super World Light Flyweight-titel, en die Ring Magazine Belt-titel ingepalm.
Met die oog op die ontmoeting het Divan baie hard saam met afriger Soon Botes van IBF geoefen, en Hekkie uitgedaag vir ’n drie rondte boksgeveg vir die spesiale “Superhero”-titel wat die aand op die spel is.
Soon homself is baie bekend in die bokswêreld en het al Suid-Afrika by die Olimpiese spele verteenwoordig. Voor sy uittrede was hy agtste in die wêreld in sy gewigsklas.
Hierdie man met sy groot hart trap diep spore in die lewens van baie en die naam Impact staan juis vir die impak wat jy maak in mense se lewens. So bied hulle ook spesiale klasse aan vir mense met Parkinsons, ADHD, en selfs rolstoel boksers.
Om deel te wees van die Box & Dine geleentheid, kan Soon Botes by 072 124 3588, of Theo Botes by 079 785 7343 geskakel word. Kaartjies kos R150 per persoon en daar is ook geleentheid vir maatskappye om tafels te borg. Daar gaan die aand spesiale boks memorabilia op veiling wees en hope vermaak met ‘n paar gevegte.

Divan Groenewald saam met Hekkie Budler en Soon Botes wat spesiaal vir hom in Parys kom kuier het.

Die fondse wat die aand met die Boks & Dine geleentheid ingesamel word, sal help om vir Divan ’n nuwe rolstoel te koop wat hy nou nodig het, asook sy geweldige hoë mediese onkostes, met ’n moontlike heupvervanging wat weer in die nabye toekoms vir hom voorlê.
Die 19-jarige Divan ly aan ’n baie rare siektetoestand wat in so min as 70 gevalle wêreldwyd aangemeld is. Mohr Tranebjearg-sindroom is ’n degenaratiewe siekte wat op die ouderdom van drie jaar by Divan gediagnoseer is. Op die ouderdom van ’n jaar het Divan begin bril dra, en vandat hy drie jaar oud is, moes hy ook staatmaak op ’n gehoorapparaat.
Mettertyd kon Divan nie meer sonder hulp loop nie, en kom hy met ’n rolstoel oor die weg. In 2016 moes hy ’n rugoperasie ondergaan om skade te herstel as gevolg van skoliose en kifose wat die funksionering van sy longe, hart en niere nadelig geraak het. Daarna het sy eerste heupvervanging gevolg.
Ten spyte van sy gesondheidsuitdagings is Divan se glimlag sy grootste getuienis van die positiewe gesindheid waarmee hy elke dag aanpak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button