
Of jy glo in Kersvader of nie – vir ‘n kind van Parys sal Kersfees nooit weer dieselfde wees nie!
In kindergeloof is dié briefie geskryf toe ‘n gemeenskap uitgereik het na 150 kinders van Parys en hul ouers op Saterdag 1 Desember, om vir een dag ook hierdie 400 mense die bederf te gee wat baie van ons daagliks as vanselfsprekend ervaar. Daar is tyd saam met hierdie kinders en hul ouers spandeer, lekker gespeel en Kersvader het gekom en presentjies gebring.
En dit is hoe die briefie in Kersvader se briewebus beland het.
Die wens – ‘n swembad om ook soos ander kinders te kon swem in die bloedige hitte. Maar die kinderhartjie het geweet dat ‘n swembad in hierdie moeilike ekonomiese tye dalk selfs vir Kersvader bietjie bo sy vuurmaakplek sou wees. Nietemin het die hoop nie beskaam nie. Miskien sou Kersvader ‘n plan kon maak.
Net ‘n paar dae later, het iemand die briefie raakgelees. Iemand wat ‘n verskil kon en wou maak vir ‘n kindjie wat dalk nooit andersins die voorreg van ‘n swembad sou hê nie.
‘n Ongelooflike verhaal wat jou weer die wonder van Kersfees en die ongelooflike boodskap van die Groot Geskenk van Liefde laat besef.





