Kol. Andries Mahapa, die SA Weermag se bevelvoerder van 1 Konstruksieregiment, wat daarmee getaak is om die Vaaldriehoek se water- en rioolinfrastruktuur te herstel.
VEREENIGING. – Dit blyk dat kol. Andries Mahapa, bevelvoerder van 1 Konstruksieregiment, se weermageenheid wat getaak is met die herstel van die rioolsuiweringsaanlegte in die Vaaldriehoek, in net twee weke reeds opmerklike vordering begin maak het.
Die pompstasie by Boitumelo, waar riool letterlik deur inwoners se huise en tuine gestroom het, is reeds herstel en vir die eerste keer in baie maande is inwoners ontslae van die onuitstaanbare, onhigiëniese gemors en afstootlike reuke.
Kol. Mahapa en sy regiment sal vir 12 maande in die Vaaldriehoek gestasioneer wees om die watersuiweringsaanlegte in Sebokeng, Leeukuil, Rietspruit en Meyerton, sowel as die gebied se 44 pompstasies, te herstel.
Weermaglede het die afgelope week hard daaraan gewerk om ‘n massa soliede riool uit die oorstromende tenks by pomphuise met behulp van konstruksievoertuie te verwyder. Sodra die soliede riool verwyder is, sal die oorblyfsels van nie-funksionerende of gevandaliseerde pompe verwyder en met nuwes vervang word. Kol. Mahapa het Sondagaand in ‘n onderhoud op die Facebook-blad Vaalarmy gesê baie goeie vordering is reeds gemaak met die Module 3-infrastruktuur by Sebokeng se watersuiweringswerke, wat na verwagting teen die komende naweek vir die eerste keer in maande ten volle in bedryf gaan wees. Hy het bygevoeg dat die Weermag nie alleen die lof vir die flink vordering moet kry nie. Ander rolspelers soos die plaaslike munisipaliteit het ook aan boord gekom en lewer baie waardevolle insette, sê hy.
Mahapa sê hy is vol moed dat die Vaaldriehoek se rioolinfrastruktuur teen einde volgende jaar in ‘n goeie werkende toestand gaan wees.
Die weermag word in hul taak bygestaan deur die departement van waterwese en sanitasie, munisipale beamptes en ingenieurs.
Sowat 300 soldate hou nou 24 uur per dag wag by die 44 pompstasies om diefstal en vandalisme vas te vat. “Hierdie fasiliteite is nou militêre sones,” sê Mahapa. Na verwagting gaan hier uiteindelik altesaam 500 troepe ontplooi word. * Volg die SA Weermag se werksaamhede aan die Vaaldriehoekse infrastruktuur op Facebook: Vaalarmy
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.