Vragmotorbestuurder vlug ná polisie vrag met R1,5m se dagga en dwelms onderskep
Die vragmotorbestuurder wat die hasepad gekies het is steeds soek.
‘n Groot deurbraak is Saterdagmiddag deur die polisie gemaak toe beslag gelê is op dagga en Mandrax-tablette met ’n geraamde straatwaarde van R1,5 miljoen, asook ’n vragmotor wat na bewering gebruik is om die dwelms te vervoer.
Konstabel Kelello Patsa, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het bevestig dat die polisie die afgelope paar weke inligting gemonitor en op verskeie geleenthede waarnemings gedoen het oor ’n vragmotor wat glo gebruik is om dagga en dwelms tussen Kaapstad en Johannesburg (Alrode) te vervoer.
Saterdag 7 November omstreeks 12:00 die middag het gespesialiseerde eenhede van die polisie inligting ontvang dat die vragmotor met ‘n vrag dagga en dwelms op pad na Kaapstad was. Die inligting is onmiddellik opgevolg.
Polisiebeamptes het die vragmotor op die N1-suid opgemerk en afgetrek, waarop die vragmotorbestuurder ingelig is oor die rede waarom die voertuig afgetrek is. Die vragmotor is toe na die Parys-polisiestasie begelei sodat dit daar deursoek kon word. Toe die vragmotor egter sowat 100m van die polisiestasie was, het die vragmotorbestuurder uit die bewegende voertuig gespring en te voet gevlug.

Die vragmotor is daarna by die polisiestasie deursoek, en is beslag gelê op 452 bale dagga van 1kg elk, asook sewe pakkies Mandrax van 1kg elk. Die dwelms se gesamentlike geraamde waarde beloop R1,5 miljoen, het Patsa gesê.

Die eienaar van die vragmotor is gekontak en versoek om na die polisiestasie te kom waarop hy bevestig het dat die vragmotor aan hom behoort. Hy het egter enige verbintenis met die dagga en dwelms ontken.

Die vragmotor is geskut en beslag is gelê op die dwelms en dagga.
Die ondersoek duur voort.






