
Die onlangse krag- en wateronderbrekings in Parys mag dalk ‘n onverwagte effek hê as ‘n waterlose kraan vir ‘n tyd oopgelos word.
Terwyl lug daaruit geblaas word, hou munisipale watermeters klaarblyklik aan vorentoe draai, asof dit werklike watervloei meet. Dit beteken dat die meterlesing dalk dan hoër mag wees as die ware verbruik.
Volgens DA-raadslid Arnold Schoonwinkel het ‘n inwoner hom verlede week daarvan vertel, en is ‘n video-opname hiervan deur nog ‘n inwoner gemaak.
Hierop het Schoonwinkel in ‘n e-pos navraag by die Ngwathe munisipaliteit se direkteur tegniese dienste gedoen.
Daar is gevra dat ‘n onmiddellike ondersoek gedoen word sodat inwoners verseker kan wees dat meterlesings hul ware waterverbruik reflekteer, en nie die beweging van lug met wateronbrekings nie.
Schoonwinkel sê Direkteur Thobela het beloof om dit onmiddellik te ondersoek, maar word adresse benodig van inwoners by wie dit gebeur.
Name en adresse kan aan mnr. Schoonwinkel per SMS gestuur word na 084 549 3384.



