
Stel jou voor jy boer in die omgewing, en ‘n myn maak op die buurplaas oop wat soveel grondwater gebruik dat al jou boorgate opdroog! Dit is hier waar die hidrogeoloog vir jou die antwoorde kan gee – van kwantiteit tot kwaliteit.
“Ek sê maar vir mense ek is ‘n grondwaterkonsultant, want hidrogeoloog klink dalk te fênsie,” gesels Johan Smit, ‘n hidrogeoloog van Parys.
Hidrogeologie is ‘n onderafdeling van geologie (die studie van die aarde), maar tog ‘n studieveld op sy eie. Dit behels die studie van die voorkoms, beweging en gebruik van grondwater. Namate bevolkingsgetalle toeneem, en oppervlakwaterbronne afneem, of soos die Vaalrivier besoedel word, word die bestuur van grondwater al hoe meer belangrik om volhoubaarheid te verseker.
Johan is passievol oor sy beroep en sê dat Suid-Afrika van die beste omgewingswetgewing in die wêreld het wat vereis dat enige ontwikkeling of watergebruik wat ‘n moontlike impak op die omgewing en ander gebruikers kan hê, gelisensieer moet word. Dit is hier waar ‘n grondwaterkonsultant, of hidrogeoloog nodig is.
Johan verduidelik dat daar hoofsaaklik twee tipes impakte is waarna hidrogeoloë kyk – kwantiteit en kwaliteit. Vir kwantiteit, of hoeveelheid, is dit belangrik om toe te sien dat grondwateronttrekking volhoubaar is. Hidrogeoloë word onder meer ingespan om die impak van onttrekking te bepaal. Dit word gewoonlik gedoen deur volhoubaarheidstoetse op onttrekkingsboorgate. Dis ‘n gespesialiseerde toets waar die boorgat vir 12-24 uur teen ‘n konstante lewering gepomp word, terwyl die daling in watervlak in die onttrekkingsgat, asook nabygeleë boorgate gemeet word oor tyd, om dit op ‘n grafiek voor te stel vir interpretasie.
“Jy kan baie aflei van die akwifeer se deurlaatbaarheid en stoorkapasiteit, en vir elke boorgat word ‘n volhoubare lewering uitgewerk,” sê Johan.
“Baie mense maak die fout om ‘n vinnige boorgattoets te doen om te kyk hoeveel water die boorgat kan lewer, maar dit is nie noodwendig die volhoubare lewering nie. Die grootste fout wat boere kan maak is om boorgate toe te rus met die grootste moontlike pompe, en selfs miljoene te spandeer op besproeiingsinfrastruktuur soos spilpunte, net om agter te kom die boorgate droog op na ‘n paar maande. Buitendien vereis die wet dat sulke groot onttrekkings gelisensieer moet word, waarvoor ‘n spesialis-grondwaterverslag benodig word.”
Die ander groep impakte waarmee hidrogeoloë werk het te doen met die kwaliteit oftewel besoedeling van grondwaterbronne. Stel jou voor die myn langs jou plaas veroorsaak suurmynwater wat jou boorgate besoedel. Hoewel die mynbousektor een van die groot sondebokke is wat grondwater besoedel, moet enige ontwikkeling wat moontlik grondwaterbronne kan besoedel, gelisensieer word. Voorbeelde sluit in munisipale stortingsterreine, rioolwerke of begraafplase, petrolvulstasies, mynbou-slikdamme en enige ander industrieë wat besoedeling mag veroorsaak.
Die tipiese dag van ‘n hidrogeoloog:
“Die enigste konstante is koffie, die res is volgens projekvereistes. Dit is wat die beroep so lekker maak. Jy spandeer nie maande aaneen in die veld nie, maar ook nie maande aaneen agter ‘n rekenaar nie.”
Projekte verskil baie, maar die basiese benadering bly dieselfde. Wanneer daar ‘n behoefte is om grondwater te ontgin, soos ‘n boer wat wil besproei of munisipaliteit wat drinkwater wil aanvul, dan sal Johan begin deur lugfoto’s en satellietbeelde te gebruik om verskuiwings en ander breuke te soek wat as boorteikens kan dien.
Dan is hy ook lief daarvoor om geofisikametodes te gebruik om breuke ondergronds op te spoor. “Jy kan soms baie duidelike verskuiwings en ander kontakte ondergronds opspoor wat nie op die oppervlak waarneembaar is nie.”
Johan vertel dat een van die mees vervullendste oomblike was toe hy vir ‘n boer met die eerste probeerslag ‘n suksesvolle boorgat met geofisika aangewys het, nadat die boer tientalle droë boorgate op sy grond laat boor het.
“Ek hou daarvan om by te wees as die kliënt die boorgat boor, deels om die vervulling te beleef van ‘n suksesvolle boorgat, maar ook om die geologie in die boorgat te karteer. Dan glo hy daaraan om ‘n suksesvolle boorgat te toets.
Wanneer dit kom by besoedelingsimpakbepalings, dan is dit belangrik om die besoedelingsbron, geologie, akwifeer se deurlaatbaarheid, grondwatervloeirigtings en alle omliggende grondwatergebruikers in ag te neem wat moontlik geraak kan word. ‘n Standaard aktiwiteit op enige projek is ‘n hidrosensus, of boorgatsensus waar enige grondwatergebruikers wat deur óf onttrekking, óf besoedeling geraak mag word, geïdentifiseer word.
Die groter impakstudies maak gebruik van grondwatermodeleerders wat numeriese rekenaarmodelle gebruik om besoedeling in grondwater oor tyd te simuleer. Sulke modelle kan maande neem en kos gewoonlik miljoene omdat daar heelwat geofisika, boorwerk en pomptoetse nodig is. Grondwatermodeleerders is dan ook gewoonlik die bes betaalde hidrogeoloë.
Belangstellings:
Indien jy belangstel in die beroep is dit belangrik om ‘n liefde vir die natuur en buitelewe te hê. Jy moet oplettend wees, sistematies, analities, en ook soms kreatief. Goeie taalvaardighede is nodig vir verslae, en wiskunde en rekenaarvaardighede vir modellering.
Hidrogeologie, of geohidrologie soos sommige universiteite daarna verwys, word gewoonlik as ‘n nagraadse kursus aangebied, alhoewel dit ook as ‘n voorgraadse module in geologie aangebied kan word. “Ek sou aanbeveel om eers geologie tot op honneursvlak te neem met wiskunde en chemie as ander hoofvakke, en daarna nagraads te spesialiseer in hidrogeologie. Op skool is dit belangrik om wiskunde en wetenskap op matriekvlak te slaag as toelatingsvereiste vir B.Sc Aardwetenskappe. Geografie is ‘n sterk aanbeveling, hoewel nie ‘n vereiste nie.
Beroepsmoontlikhede:
Die beroep is uiters vervullend en uitdagend, en daar sal altyd ‘n behoefte wees aan hidrogeoloë omdat waterbronne onder toenemende druk kom en waterbestuur belangriker word. Die meeste projekte is mynbouverwant. Die huidige ekonomiese klimaat wat mynbou en ander ontwikkeling knou, het veroorsaak dat heelwat hidrogeoloë tans in die buiteland werk. Daarom is dit ook ’n beroep wat deure in die buiteland kan oopmaak.




