
Pieter Doorewaard (28) en Phillip Schutte (35) se aanoek om verlof tot appel is vanoggend in die hooggeregshof in Mmabatho van die hand gewys. Hulle sal hulle nou direk tot die appelhof in Bloemfontein wend.
Dit volg nadat Doorewaard en Schutte in Maart vanjaar effektief 18 jaar gevangenisstraf en 23 jaar gevangenisstraf onderskeidelik opgelê is vir die moord op Matlhomola Moshoeu (15), en klagte van menseroof, diefstal, intimidasie en die rig van ‘n vuurwapen.
AfriForum se private ondersoekeenheid het die appelaansoek hanteer in samewerking met prokureur Frik van Tonder, en adv. Barry Roux.
Die aansoek om verlof tot appel was teen Doorewaard en Schutte se skuldigbevindings en vonnisse vroeër deur regter Ronald Hendricks wat in sy uitspraak bevind het dat Doorewaard en Schutte die oorledene van die bakkie afgegooi het nadat hulle hom van die diefstal van sonneblomme beskuldig het. Die twee mans hou vol dat hulle nie Moshoeu in April 2017 van die bakkie afgegooi het nie, maar self afgeval of afgespring het.
Met die aansoek om verlof tot appel is geargumenteer dat die staat se hoofgetuie, Bonakele Pakisi, groot foute gemaak het in sy getuienis en dat sy getuienis teenstrydig was. Ook dat Pakisi drie verklarings oor die gebeure afgelê het.
Regter Hendricks het vandag bevind dat daar nie ‘n redelike vooruitsig is dat ‘n ander hof in die lig van die feite ‘n ander gevolgtrekking sal maak nie. Derhalwe het hy die aansoek om verlof tot appel van die hand gewys.



