NewsNews

‘Hierdie is my land’

Elke koerantknipsel sorgvuldig geplak, vertel haar verhaal van liefde en aanvaarding by ’n Suid-Afrikaanse gesin op ’n plaas in Leeuwdoringstad.

Sy was net twee jaar en drie maande oud. Op ’n skip op pad na ’n vreemde land aan die suidpunt van Afrika. Op 8 September 1948 het die Union Castle anker gegooi met sy kosbare vrag. Sewe en tagtig kinders. Wees en vreemd. Sy die jongste van hulle. Duitse weeskinders wat hier in Suid-Afrika ’n nuwe tuiste sou vind.
Soos gister onthou Marion du Toit die gebeure van 71 jaar gelede waar sy in haar sitkamer by Amot sit met die plakboek op haar skoot. ’n Boek met elke koerantknipsel wat die ongelooflike verhaal vertel van die Duitse wesies wat deur die Dietse Kinderfonds gekeur was om in Suid-Afrika ’n tweede kans te kon kry. Ver van hul land, hul taal en kultuur, in ’n toe nog onbekende land met sy Afrika-son.
Elke koerantknipsel sorgvuldig geplak, vertel haar verhaal van liefde en aanvaarding by ’n Suid-Afrikaanse gesin op ’n plaas in Leeuwdoringstad.
Op haar skoot die kinderkleertjies – net twee stelle, waarmee haar geboorteland en lewe in Holm in Schleswig-Holstein, versoen sou word met ’n nuwe lewe saam met Gert en Lena Strauss. Die enigste ouers wat sy ooit geken het.
Die Strauss-egpaar was kinderloos, maar na Marion se koms het hul ook vyf jaar later ’n seuntjie ryker geword.
Al het sy geen herinnering vandag aan wie haar Duitse familie was nie, is daar by Marion totale vrede. Geen verlange of behoefte om te gaan soek na haar Duitse familie nie. Geen hunkering om terug te gaan na haar geboorteland nie. Net haar van, Maasch, wat haar Suid-Afrikaanse ouers as tweede naam vir haar behou het, dra vandag nog die duidelike stempel van haar Duitse herkoms.
Van die begin het haar ouers haar vertel dat sy aangeneem is – hul eie kind, ingevoer uit Duitsland. En juis die eerlikheid glo Marion is wat gemaak het dat sy vandag soveel vrede het.


Marion vertel dat sy as kind ewe “grand” vir haar skoolmaats sou vertel dat sy in Duitsland gebore is.
Sy onthou hoe ma Lena wat Duits as hoofvak gehad het, reg van die begin kon verstaan wat sy wou hê. Tog is sy gou geleer om Afrikaans te praat. Sy onthou hoe vriende, familie en kennisse van oraloor gekom het “om te kom kyk hoe lyk die kind”.
Haar Suid-Afrikaanse pa is jonk dood, maar ma Lena het gesorg dat Marion onderwys kon gaan studeer, en het sy in 1969 in Wolmaransstad begin skoolhou.
Later sou sy Hoof van Musiek word en het sy uiteindelik in 2014 die tuig neergelê as onderwyser wat geleef het vir haar vakgebied en die talle kinders wat onder haar hand musiek geleer ken het.
Oor die jare het die groep Duitse weeskinders wat hier in Suid-Afrika ’n tuiste sou vind, kontak behou. Onder hulle ook Lothar Neethling wat die oudste van die groep was. Toe sy in standerd 9 was het die groep vir die eerste keer in 1969 reünie gehou. Ook hiervan vertel die onthou in haar plakboek.
By die reünies sou sy hoor van al die oorlogsellende wat daar was in haar geboorteland. Dinge waarvan sy nie geweet het nie, en nie wou weet nie. Wat sy geweet het, het ma Lena haar geleer.
Toe die groep 21 jaar in die land was, is die laaste reünie gehou.
Vandag is Marion 73 – ’n vrou wat hier aan die suidpunt van Afrika ’n ouerhuis en ’n nuwe lewe kon vind.
Wat self die voorreg van ma-wees en ouma-wees kon ervaar. ’n Duitse weeskind wat die son van Sy genade hier in Afrika kom kry het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button