News

Onnies se storie-oomblikke vasgevang

Kranige fotograwe!

Fotografie is ‘n kunsvorm wat tegniese en artistieke vaardigheid verg. Dis veel meer as net ‘n mooi prentjie. Dit maak jou deel van die belewenis wat met ‘n kameralens vasgevang is.
Hiervan kan Elize Odendaal en Jeanette Kerling getuig. Hul foto’s is onder die beste werke van 30 fotograwe van Towerlantern Fotografie wat deel vorm van ‘n fotografie-uitstalling wat tans by die Potchefstroomse Hoofmuseum (h/v Gouws- en Sol Plaatjiestraat) te siene is.
Die uitstalling dek ‘n verskeidenheid van genres – van natuurtonele tot abstrakte fotografie.
Maar wat het die juffrouens agter die kameralens gekry?
Elize vertel dat sy haar eerste kamera gekry het toe sy omtrent 10 jaar oud was. Dit was n Kodak Six-20 Brownie, vertel sy, en voeg by dat die foto-gogga toe al gebyt het.
“Ek was nog altyd geïnteresseerd in foto’s neem. So ‘n paar jaar gelede was ek bevoorreg om ’n goeie kamera te kry, maar ek was gefrustreerd omdat die foto wat ek gevisualiseer het, en dit wat ek op die skerm gesien het, nie ooreengekom het nie.”

Die foto is deur Elize Odendaal geneem in die Yarra Vallei in Australië.

Dié foto van Elize Odendaal, getiteld, “Smarag”, is geneem by Lakes Entrance in Australië. Dit is een van die foto’s met ongelooflike gebruik van lig en kleur, wat tans te sien is by Towerlantern se Fotografie uitstalling in Potchefstroom.
“Ek het besef dat my kamera tot veel meer in staat was as om net op die outomatiese instelling foto’s te neem. Ek wou nie net ‘kiekies’ neem nie, ek wou ‘n storie vertel met my foto’s.”
So het Towerlantern Fotografie in Potchefstroom, oor haar pad gekom. Elize het verlede jaar die intreevlak kursus voltooi en vanjaar vir die gevorderde vlak fotografiekursus ingeskryf.
Sy hou daarvan om foto’s te neem van die alledaagse – dit wat mense gewoonlik nie raaksien as fotomateriaal nie. “Ek probeer om die gevoel, die oomblik, in ‘n foto vas te vang.”
Vir haar is die resep van ‘n goeie foto komposisie, regte kamera instellings en kreatiwiteit. “Wees n vrydenker en waag met jou kamera..,” is haar raad.
Haar grootste les wat sy met die kursus geleer het, is hoe om lig (son) in haar foto’s te gebruik. Ook dat ’n goeie foto nie noodwendig skerp en in fokus hoef te wees nie. Impressionistiese kunsfoto’s het net soveel trefkrag as wat ‘n skerp in fokus foto het, sê sy.

Op ‘n vraag oor watter kamera die beste is, is haar antwoord eenvoudig – die een wat jy nou het! “Leer ken jou kamera se funksies en jy sal verstom staan oor wat jy met jou eenvoudige kamera kan doen. Kyk om jou rond, sien foto’s in alles om jou, en vang die gevoel en emosie vas.”

Elize Odendaal

Vir Jeanette was haar pa haar groot inspirasie. Sy het eintlik begin foto’s neem vir die skool se jaarblad wat begin is in 2007. Gedurende Augustus 2018 het sy ook die beginnerskursus by Johan de Klerk van Towerlantern Fotografie bygewoon. Daar het sy besef waartoe ‘n kamera alles in staat is, en hoe belangrik dit is om jou kamera te ken, vertel sy.

Jeanette Kerling. 

Jeanette het die pragtige foto by Mabula Lodge geneem.
Meer oor Towerlantern:
Towerlantern is fotografieklasse wat begin is deur Johan de Klerk en Johann Nel van Potchefstroom, nadat hulle die behoefte van mense raakgesien het om meer oor hul kameras en fotografie te leer.
Die naam, “Towerlantern” is geïnspireer deur die besondere rol wat lig in fotografie speel, en lê klem op ‘n foto wat betowering by die kyker moet wek.
Die fotografie-uitstalling by die Hoofmuseum in Potchefstroom kan nog tot 30 September besigtig word. Galery-ure is van Maandae tot Vrydae van 09:00-13:00 en 14:00 tot 16:00. Op Saterdae kan die foto’s tussen 09:00 en 12:30 besigtig word, en Sondae van 14:30 tot 17:00.
Vir navrae skakel Elmarie Weyers by die Hoofmuseum by (018) 299 5021.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button