Herstelwerk op S171 vorder
Werk aan die Vaal Eden-pad (S171) sal waarskynlik nog tussen drie en vier weke neem om te voltooi. Daar word tans gewerk aan die grondpad-gedeelte voor Sandfontein verby, oorkant die Almur Smit Pluimveeplaas op pad vliegveld toe, asook aan die teergedeelte van die S171. Groot klippe op die grondpad-gedeelte het al ernstige skade vir motoriste …

Werk aan die Vaal Eden-pad (S171) sal waarskynlik nog tussen drie en vier weke neem om te voltooi. Daar word tans gewerk aan die grondpad-gedeelte voor Sandfontein verby, oorkant die Almur Smit Pluimveeplaas op pad vliegveld toe, asook aan die teergedeelte van die S171.
Groot klippe op die grondpad-gedeelte het al ernstige skade vir motoriste veroorsaak.
Nou word die pad geskraap, leivore gemaak en gruis bygesit waar nodig.
Agtien ton teer is ook deur die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer beloof vir die sowat 10 kilometer teergedeelte van die S171 waar slaggate opgevul moet word.
Die projek om die Vaal Eden-pad te herstel is ‘n inisiatief van die Land Care komitee wat onder Vrystaat Landbou val, en volg na jare se klagtes, herhaalde pleidooie en vergaderings om iets te doen aan die haglike toestand van die Vaal Eden-pad.
Die projek is hoofsaaklik gemeenskapsgedrewe danksy die samewerking van grondeienaars in die omgewing, met ondersteuning van die departement wat toerusting beskikbaar gestel het. Sedert daar vroeg in Augustus begin is, was talle grondeienaars self betrokke en is daar gehelp met arbeid en toerusting om die pad weer rybaar te kry. Naas die S171 is ook gewerk aan die S280 en S1052 grondpaaie.
Vordering oor die volgende paar weke sal afhang van die beskikbaarheid van die toerusting wat gebruik word.
Aanbevelings oor die herstel van dié haglike pad is reeds in ‘n verslag in Julie 2017 gemaak.
Die grootste redes vir die agteruitgang van die pad is die toename in swaar verkeer en gebrekkige instandhouding. Naas talle slaggate, het die swak dreinering, toegegroeide padskouers en padtekens wat nie meer duidelik sigbaar was nie, dit baie moeilik gemaak om van die pad gebruik te maak, veral in reën- en misweer wanneer sig swak is.





