
Die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark het die afgelope week sommer twee vlieë met een klap geslaan toe hulle ‘n vermeende inbreker vasgetrek en ‘n erf vol daggaplante ontdek het.
AfriForum-buurtwat is Dinsdag, 7 Januarie na ‘n moontlike huisbraak ontbied. Die buurtwaglede het ‘n verdagte in die omgewing van Koos de la Reystraat opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is aan die SAPD oorhandig en ‘n saak van inbraak is teen die verdagte aanhangig gemaak.
Terwyl die buurtwaglede na die verdagte op soek was, het hulle ook op ‘n erf afgekom wat vol daggaplante was. Die polisie is daaroor in kennis gestel, wat die daggaplante verwyder het.
“AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag het flink opgetree, wat bewys dat hulle vasberade is om misdaad in die dorp te bekamp,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
- Hoewel die konstitusionele hof in Suid-Afrika beslis het dat dit wettig is om dagga in jou woning te rook en ook ‘n bietjie te kweek vir persoonlike gebruik, is daar wel die gevaar dat indien jy te veel kweek jy as ‘n handelaar aangekla kan word, aangesien dit wel steeds teen die wet is om met dagga handel te dryf.
Die daggaplante wat toevallig ontdek is.