NewsNews

Hoe om familienavorsing te doen: Die eerste stap

Vanessa van der Westhuizen, verslaggewer by Potchefstroom Herald  het ‘n plaaslike genealoog genader wat in 10 stappe verduidelik hoe om familienavorsing te doen. Belangrike terminologie en die eerste stap word hier verduidelik. Die insameling van inligting oor jou voor- en nageslag word genealogie of familienavorsing genoem. “Die drang om te weet waar jy vandaan kom …

Die insameling van inligting oor jou voor- en nageslag word genealogie of familienavorsing genoem.

“Die drang om te weet waar jy vandaan kom of wat jou afkoms is, is so oud soos die mensdom self. In die Bybel is daar  byvoorbeeld talle voorbeelde van geslagregisters”, sê Elmarie Weyers wat baie ondervinding in die navorsing van familiegeskiedenis het.

Elmarie is die kurator van die Potchefstroomse Museum en was deel van die stigterslede van die Noordwestak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Dié tak, onder leiding van Simon du Plooy, is in 2004 in Potchefstroom gestig.

Dié vereniging ondersteun mense wat navorsing oor hulle families wil doen, deel kosbare inligting wat hulle insamel en gee interessante lesings.

“Hoewel familienavorsing nie eenvoudig is nie, is dit eintlik maklik as jy weet hoe om dit te doen” verduidelik Elmarie wat tans besig is met die geskiedenis van die Weyers-familie.

Elmarie is die sekretaresse van GGSA se Noordwestak en het ingestem om, in ‘n reeks artikels, die basiese beginsels van familienavorsing  te verduidelik. Hier skryf sy  meer oor basiese genealogiese terminologie en wat die eerste stap behels:

Kielie, kielie – soek jou familie

Om jou familiegeskiedenis na te vors, is soos om ‘n reuse legkaart te bou. Elke legkaartstukkie het ‘n plek en skakel met ander stukkies. Saam vorm dit ‘n prentjie. Die pret is om die legkaartstukkies te vind en op die regte plek te plaas. So ook het die mens die behoefte om te weet waarvandaan hy/sy kom en waar hulle in die groter geheel inpas.

Volgens Isabel Groesbeek, ‘n bekende Suid-Afrikaanse genealoog, is genealogiese navorsing ‘n ryk-geskakeerde onderneming vol verrassings, belonings, uitdagings en soms frustrasie. Dit kan nie sommer in ‘n dag of wat afgehandel word nie – daarom is dit so boeiend.

Genealogie is ‘n stokperdjie wat deur jonk en oud in hul eie tyd beoefen kan word. Wees egter gewaarsku, dat as die gogga jou eers gebyt het, is daar geen keer daaraan nie.

Die eerste vraag wat gewoonlik gevra word, is: Maar waar begin ek om my familiegeskiedenis na te vors?

In hierdie artikel val die fokus op die eerste stap.

Eerste stap

Stap een is om te gaan dink oor wat jy oor jou voorgeslagte wil weet. Om as beginner weg te spring met die doelwit om die herkoms van al die Botha’s in Suid-Afrika vas te stel, is te ambisieus. Daar is na bewering meer as 40 000 Botha’s in die land. Dit is genoeg om enige beginner se moed totaal te breek. Dit sal wys wees om eers te begin om ‘n stamboom op te stel.

Die stamboom

‘n Stamboom is ‘n direkte lyn van jou af tot by jou stamvader, wat vir die eerste keer in Suid-Afrika aangekom het. Begin deur inligting oor jouself, jou vader, oupa, oupagrootjie, oor-oupagrootjies ensovoorts tot by jou stamvader bymekaar te maak. By ‘n stamboom word daar by een familienaam gehou. Dit vorm die skelet van jou navorsing.

Daarna kan jy jou navorsing uitbrei en ‘n kwartierstaat opstel.

Die kwartierstaat

‘n Kwartierstaat is ‘n stamboom van beide jou ouers en hulle ouers en die se ouers tot en met die onderskeie stamvaders.

Elke mens het twee ouers, 4 grootouers en 8 oor-grootouers. Word dit sowat 10 geslagte teruggevoer, sal ‘n mens nagenoeg 1024 voorouers kon hê.

As die genealogiese gogga jou behoorlik gebyt het, kan jy voortgaan om ‘n stamregister saam te stel.

‘n Stamregister

‘n Stamregister is ‘n omvangryke verslag van die nageslag van ‘n voorouer in jou familie en bevat die gegewens van soms duisende persone. Wanneer ‘n geslagregister ook die verhaal van ‘n familie se wel en weë vertel, word dit ‘n volwaardige familiegeskiedenis. Treffende voorbeelde hiervan is die Cruywagen-geslagsregister of die Moll-familieregister wat ryklik toegelig is met familiefoto’s. Beide geslagsregisters kan in die Potchefstroomse Museum besigtig word.

Volgende stap

Volgende week plaas die Herald inligting oor stap twee en drie. Dit behels dat jy seker moet maak of daar nie reeds navorsing oor voorgeslagte gedoen is nie en watter tipe inligting jy oor jou voorgeslagte gaan versamel.

* Vir meer besonderhede oor die Noordwestak van die GGSA, kontak Elmarie Weyers by 018 299 5021 / elmariew@jbmarks.gov.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button