
Die gevolge van die ekonomiese uitdagings van Covid-19 word ook in die gemeenskap van Parys daagliks gesien waar geweldige maatskaplike nood tans ervaar word.
Terwyl ‘n helpende hand reeds deur die gemeenskap en kerke uitgereik word na sovele in nood, is daar ook hulle wie se nood nog nie ‘gesien’ word nie. Hulle wie se swaarkry mense nie van weet nie – bejaardes, kinders, gesinne wat alleen worstel om te oorleef.
Die vraag na hulp raak al groter met baie in ons eie dorp wat hul werk verloor het, en gevolglik ook die inkomste wat moes voorsien in daaglikse behoeftes.
Die AGS Sion-gemeente se projek, Engage, is begin juis omdat besef is dat daar ‘n drastiese toename in gesinsondersteuning mag ontstaan.
Danksy oop harte en hande van mense uit die gemeenskap kon daar al‘n verskil gemaak word in die lewens van verskeie gesinne in nood wat om hulp gevra het. Daar kon ondersteuning gegee word aan organisasies wat hande vat om hierdie uitdagings te hanteer.
Maar dit is veral mense wat nog nie die vrymoedigheid gehad het om vir hulp te vra nie – hulle wie se nood niemand van weet nie, na wie ook nou uitgereik moet word.
As jy weet van iemand in ernstige nood, bejaardes wat swaar trek, gesinne in nood – stuur asseblief ‘n WhatsApp boodskap na 067 109 5158, of selfs as jy hierdie projek op enige manier wil ondersteun.
Dalk het jy die vrymoedigheid om te help deur net ’n blikkie nie-bederfbare kos of ander nie-bederfbare produkte of skenkings in die Sion Engage-houers by onder meer Spar, Riviera Apteek en Pick ‘n Pay te plaas. Die behoefte is groot en jy kan weet dat elke item iewers ‘n verskil vir iemand sal maak.
Jy kan selfs plaasprodukte in een van die houers plaas.
Alternatiewelik kan jy ‘n finansiële bydrae in die volgende rekening maak: FNB Tjekrekeningnommer 532 600 179 01, gebruik die woord ENGAGE as verwysing.





