Matrieks en graad 7’s gaan terug
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het pas aangekondig dat graad 12 en graad 7 leerders regoor die land wel op 1 Junie sal teruggaan skooltoe. Onderwysers sal in alle provinsies van 25 Mei af terugkeer. Die minister het gesê alle persoonlike beskermende toerusting en mediese voorraad sal by alle skole afgelewer word. Daar sal …

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het pas aangekondig dat graad 12 en graad 7 leerders regoor die land wel op 1 Junie sal teruggaan skooltoe. Onderwysers sal in alle provinsies van 25 Mei af terugkeer.
Die minister het gesê alle persoonlike beskermende toerusting en mediese voorraad sal by alle skole afgelewer word.
Daar sal verwag word dat ouers van kinders met chroniese siektetoestande dit vooraf sal moet verklaar en sal alles moontlik gedoen word om kinders veilig te hou, het die minister gesê.
Dit sluit onder meer ook daaglikse siftingsprosesse by skole in.
Daar sal later aangekondig word hoe daar by private skole te werk gegaan sal word.
Minister Motshekga het beklemtoon dat skole goed is vir kinders en dat kinders die struktuur nodig het wat skole bied.
Sy het gesê die onderskeie provinsies het reeds bepaal wat die gesondheidsprofiele van personeel en skoolhoofde is, veral waar daar onderliggende siektetoestande mag wees.
Daar sal onder meer ook van ander grade se onderwysers verwag word om terug te keer skool toe om uit te help met die gedeelde graad 7 en 12 klasse by skole, het Motshekga gesê.
Daar word nog bespreek hoe spesiale skole soos skole vir dowes hanteer sal word, en word ook gekyk na die situasie van kleiner skole.
Water en sanitasie probleme is van die grootste uitdagings en het Motshekga gesê alle ander programme is gestop sodat daar op die bestryding van die virus gekonsentreer kan word en ook aandag aan water en sanitasie spesifiek gegee kan word.
Sy sê as daar genoeg ruimte was sou hulle alle kinders graag saam terug wou stuur skool toe, maar is eerder besluit op ‘n ingefaseerde benadering waar vir eers dan net graad 7 en graad 12 leerlinge die hele skool vir hulself sal hê.
Spasie in skole is een van die groot voorwaardes vir die heropening van skole, en is daar skole wat reeds skoolsale en tente beskikbaar het, terwyl daar ook voorstelle is vir gemeenskapsentrums en die gebruik van ander lokale.
Daar is beloof dat die publiek op hoogte gehou sal word ook oor veranderings op die skoolkalender. Sy sê mese sal betyds vooraf alle inligting hê en sal dit ook op die onderwysdepartement se webtuiste beskikbaar wees.
Die verwagting is dat die 2020 akademiese jaar ook ‘n inpak op die 2021 skoolkalender sal hê.





