
“Die lewe op ‘n klein dorpie is nie so sleg as mens een goeie vriend het wat jou verstaan nie. So voel Kara aan die begin van haar matriekjaar. Sy en Eduard is ewe lief vir flieks en droom oor al die lande waarheen hulle eendag wil reis. Maar alles verander toe hulle Samantha ontmoet. Sy’s nie net onmoontlik mooi nie, maar speel ook volgens haar eie reëls. Dis nie lank voordat sy Kara en Eduard se perfekte vriendskap begin toets nie…”
Met twee baie suksesvolle jeugromans reeds op die rak, stel die nuutste pennevrug van skrywer Zelda Bezuidenhout beslis nie teleur nie. Meer nog – sy breek die ys met die eerste Afrikaanse tienerroman wat ‘n gay meisie as hoofkarakter het. Die roman, toe ons oneindig was, is ‘n storie oor vriendskap, lojaliteit en toekomsdrome. ’n Diep storie wat aanvaarding en empatie saamweef in jou belewenis van hierdie karakters wat Zelda met haar fyn ingestelde skrywersoog aan jou voorstel. “Ons is vreeslik opgewonde oor Zelda se eerste Pan Macmillan boek, sê bemarkingskoördineerder, Magdaleen Snyman. Dié tienerroman behoort binne die volgende twee weke in winkels op die rakke te wees.

Meer oor die skrywer:
Zelda se eerste jeugroman As mens geluk kon proe, is in 2017 as naaswenner in die Lapa Jeugromankompetisie bekroon.
Daarna het nog ‘n jeugroman, Die 6 weke van Thomas en Ella gevolg, en toe ook die groot sukses van haar eerste tree in die volwasse mark, Die dekonstruksie van Retta Blom.
Haar eerste radiodrama, As ’n kind kom kuier” het verlede jaar ‘n tweede plek in die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie verower. Zelda en haar gesin is die afgelope vyf jaar in Parys gevestig.





