
Na maande se inperking, is die ringtennisoefening Dinsdag weer by die NG-gemeente Parys-Oos se kerksaal hervat.
Oefening is elke Dinsdag en Donderdag vanaf 17:00.
Onthou jou masker, saniteermiddel en jou eie ring as jy een het.
Ringtennis is ’n sport wat ewe veel pret as uitdaging bied en solank jy nog vlug van voet en oog is, is jy beslis nie té jonk, of té oud vir ringtennis nie.
Die sport word reeds vir ’n geruime tyd aktief in Parys gespeel.
Benewens die oefening wat die sport jou bied, is dit die ideale geleentheid om mense te ontmoet met weeklikse sosiale spel, en terselfdertyd ’n lekker wegbreek na ‘n lang dag se werk. Naas ’n paar tekkies, het jy niks meer nodig nie. Net die gewilligheid om te saam te kom speel.
Jy hoef ook nie ’n ervare speler te wees nie. Beginners en selfs kinders is baie welkom. Kom speel saam en kyk hoeveel pret daar is in dié sport.



