Hier’s dit nou! Die famous rooikop wat jou laat skater oor Boer Soek ‘n Vrou
Hier’s dit nou! Die famous rooikop wat jou laat skater oor Boer Soek ‘n Vrou

Lisa van Rooyen, beter bekend as Lisa met die rooi hare, het geen bekendstelling nodig nie. Sy is Potch se eie plaaslike ‘celebrity’ wat bekend geword het vir haar grappige kommentaar op sosiale media na elke episode van die TV-reeks, Boer Soek ‘n Vrou. As jy nie ‘n kranige vlinder op sosiale media is nie en jou kinders jou nog nie van haar vertel het nie, is dit tyd om haar op te soek. Haar 70 000 volgelinge op Youtube, Facebook en Instagram, wat by die dag meer word, kan nie wag vir haar volgende kwinkslae wat sy oor die mees onlangse episode van Boer Soek ‘n Vrou gaan kwytraak nie. Almal sien haar as die ‘fun girl’ wat met haar goedige opmerkings bietjie die boere en hulle vriendinne se been trek. Sy spot met elke inleiding van haar video-opnames dat sy Boer Soek ‘n Vrou kyk sodat jy nie hoef nie. Haar opnames is verder skreeusnaaks omdat dit so goed geredigeer is. Sy gebruik graag die reaksies op mense se gesigte en snaakse woorde uit vorige TV-opnames wat sy by haar insetsels invoeg.
Die spontane en aantreklike, rooikop se “verhoognaam” het eintlik al op skool begin. Sy vertel dat hulle vier Lisa’s in die voogklas by Gimmies was, daarom het sy haar Instagram, Lisa met die rooi hare, gedoop. “Daar was kort Lisa, blonde Lisa, sportiewe Lisa en dan was ek Lisa met die rooi hare.” Op skool was sy stil en teruggetrokke terwyl sy tog graag van kleins af talent en belangstelling in die vermaaklikheidsbedryf getoon het. Sy het graag op skool in konserte en musiekblyspele gespeel en het ook klavierlesse en dansklasse gehad. Na skool het sy by die Campus of Performing Arts (COPA) in Pretoria ingeskryf om die musiekindustrie beter te leer ken. Sy stel veral in die besigheidsafdelings van die musiekindustrie belang en weet nou meer oor platemaatskappye, hoe om kontrakte te lees en handelsooreenkomste te sluit. “Ek het van kleins af vir my ma gesê ek wil ‘n ‘rock star’ word en ‘famous’ wees, lag sy.
Lisa se snaakse video insetsels het haar ‘famous’ gemaak, maar sy het aan die begin eers geëksperimenteer voor sy uiteindelik soveel duisende aanhangers gekry het. “Dit het alles begin met Amerikaanse realiteitsprogramme wat ek op TV gekyk het – programme soos Bachelor en Survivor. Ek het ook gemerk dat daar mense in Amerika is wat op Youtube grappige opsommings van dié programme maak. Dit trek baie aanhangers in Amerika. Ek het opgelet dat ons nie so iets in Suid-Afrika het nie en het besluit om dieselfde hier te doen,” vertel Lisa. Sy het haar video’s in Afrikaans gedoen, terwyl die programme, Bachelor SA en Survivor SA, in Engels was. “Dit was nie so suksesvol nie en ek het toe besluit om die Afrikaanse realiteitsprogram, Boer Soek ‘n Vrou te kies. “Ek kon nie glo dat soveel mense daarna begin kyk het nie. Dit het al my verwagtinge oortref,” sê sy. Nou volg die aanbieder van Boer Soek ‘n Vrou, Marciel Hopkins en die boere haar ook op sosiale media.
Sy sê dit laat haar bietjie geïnhibeerd voel, want sy weet dat die boere kyk. Sy terg en maak grappies en wil hê haar volgelinge moet lag, maar sy wil dit nie ten koste van die boere doen nie. “Jy moet weet waar om die streep te trek. Ek vra altyd eers vir my ma as ek oor iets twyfel, want ek wil nie kwetsend wees nie,” sê Lisa. Sy vertel ook dat die boere op sosiale media nou meer nuuskierig is oor wat sý oor hulle gaan kwytraak as om nuuskierig oor die TV-opname self te wees.