Geen uitdaging was nog ooit té groot vir Genevieve Croeser nie. Ook nie toe sy ingesluit is in die Vrystaat-span vir die Sanesa Western Riding nasionale kampioenskappe wat verlede week in Fourways, Johannesburg, beslis is nie. Maar anders as haar spanmaats, het Genevieve, ‘n leerder aan Hoërskool Parys, bo en behalwe die uitdagings wat wind en swaar reën vir ruiters by dié kampioenskappe ingehou het, ‘n veel groter uitdaging gehad. Sy was die enigste gesiggestremde ruiter by die kampioenskappe wat teen nie-gestremde ruiters in dieselfde klasse meegeding het.
Boonop was dit die eerste keer ooit dat ‘n blinde ruiter aan dié kampioenskappe deelgeneem het, waarvoor spesiale toestemming gekry moes word. ‘n Ongelooflike getuienis van deursettingsvermoë, van aanhou en nie moed verloor nie, van waagmoed en durf om in ‘n sienende wêreld selfstandig oor die weg te kom. Genevieve is prematuur op 28 weke gebore en die hoë suurstofvlakke waaraan haar oë in die broeikas blootgestel was, het haar kornea en retina laat skeur. ‘n Toestand bekend as retinopatie van prematuriteit. Gevolglik was sy van die begin af heeltemal blind in haar regteroog en het net 7% sig in haar linkeroog gehad.
Op 2-jarige ouderdom het sy die bietjie sig wat sy gehad het, ook verloor. Maar dit is haar vriende, haar ouers Wouter en Natasha, ouma Rina, onderwysers en haar afrigter, Martie Bezuidenhout, wat Genevieve se ankers in haar lewe is. Dit is hulle wat haar, ten spyte van haar blindheid, nooit teruggehou het, of anders behandel het nie. Wat haar die geloof in haarself gegee het.
Genevieve en haar perd Flicka het reg van die begin ‘n besondere band gehad, ‘n ritme van liefde wat pols in hul fyn aanvoeling vir mekaar. Toe sy Flicka kry, het sy geweet dat sy wou skou en met dié doel voor oë geoefen. Toe sy vanjaar in haar matriekjaar die kans kry om vir die eerste keer aan die nasionale kampioenskappe deel te neem, het Genevieve dit met albei hande aangegryp en ‘n tweede plek in een van haar klasse verower. Omdat daar tans geen klasse vir gestremdes in dié ruiterkuns dissipline is nie, is Sanesa in kennis gestel dat sy as blinde ruiter saam met ruiters van ander provinsies sou kompeteer.

Martie het met haar vingers op Genevieve se been die baan geteken. Haar laat loop op die bane sodat sy sou weet hoe hoog of laag Flicka sou trap om in en uit die baan te beweeg. Met ‘n klankstelsel wat netjies in haar ryhoed pas, was Martie se stem in haar oor, Genevieve se gids op die baan wat haar gelei het om Flicka oor elke hindernis en na elke punt op die baan te stuur. Selfs in die baie uitdagende weerstoestande wat Flicka aanvanklik moeilik gemaak het om te hanteer.
Soos haar spanmaats het sy self vir Flicka versorg, want vir haar is dit belangrik om soos ander, haar drome te kan uitleef, te kan inskakel en te onthou dat ander ook uitdagings het. Net voor die nasionale kampioenskappe het Genevieve boonop gehoor dat sy ook die Vrystaatse wenner is van vanjaar se ATKV Senior Afrikaanse Olimpiade vir Afrikaans Huistaal sprekers. Nog ‘n besondere mylpaal vir ‘n baie besondere meisie vir wie haar blindheid nie ‘n gebrek is nie, net ‘n aansporing tot hoër hoogtes.




