NewsNews

Laaste groet vir dorp se geliefde apteker

Hy wou blymoedig en kalm sterf - en hy het

  Vandag, Saterdag 9 Oktober, was dit oulaas groet vir ‘n merkwaardige pa, oupa en geliefde apteker van Parys.

‘n Man wat sy lewe in meer as jare geleef het.

‘n Man wat geleef het met ‘n hart vir ander.

Verlede jaar het hy nog die wens uitgespreek om blymoedig en kalm te sterf, en vanmiddag was dit Coen de Jager beskore in die geseënde ouderdom van 97 jaar.

Wanneer jy hom nog tot vier maande gelede in die dorp sien ry het in sy bakkie, of raakgeloop waar hy elke dag nog sonder kierie die trappe flink opgeloop het na die kantoor van sy seun, Saal de Jager, by Harcourts, kon jy kwalik glo dit is ’n man van ver oor die 90.

 

 

’n Man wat sy lewe lank geglo het dat jy niks verloor as jy jou hand uitsteek om die las vir ‘n ander ligter te maak nie. “Wat jy aan ‘n ander doen, kom weer terug na jou toe,” het hy altyd gesê. Dit was hierdie filosofie wat hom so geliefd gemaak het in die jare wat hy die Geen & Velleman apteek in Parys gehad het. Niemand het ooit uit die apteek gestap sonder medisyne nie – of hy kon betaal of nie.

So het Coen op sy stil opregte manier vriende in alle gemeenskappe gemaak, kinders deur die universiteit gehelp en diep in harte gekruip met sy opregte omgee vir elkeen wat hy sou raakloop. Hy’t grootgeword in die Oos-Vrystaat op ’n plaas in Ficksburg en is dit waar hy die Sotho-taal vlot leer praat en skryf het. Eers is hy Stellenbosch toe na skool om teologie te studeer, maar in sy derde jaar skuif hy Potchefstroom toe om hom as apteker te bekwaam. In daardie jare is nog baie staatgemaak op die medisinale waarde van plante en het hy as apteker oor jare vele salwe gemeng waarvoor mense van heinde en verre gekom het. Hy was vir 57 jaar deel van Parys – een van die nederigste mense wat jy sou raakloop, altyd tyd gehad om te gesels, belang te stel, altyd ‘n glimlag. ‘

n Man wat sy posduiwe geken het en selfs sy Springbokkleure in die sport verwerf het. Vir 30 jaar was hy voorsitter van die Parys-posduifklub en ook ere-president van die Vaal Posduif Unie. Tot op 86-jarige ouderdom het hy nog sy duiwe uitgevat op die pad, maar toe het dit tyd geword om eers halt te roep met die sport. “My lewe is fantasties. Ek is gelukkig want ek leef nie net vir myself nie.” Dit was die woorde van Coen de Jager toe hy in Maart sy 97ste verjaardag gevier het. En dit is hierdie woorde wat mense van Parys, sy gesin en familie sal koester in tere herinneringe aan ‘n vader, vriend en raadgewer wat sonder twyfel gemis sal word.

Die troosdiens is Vrydag 15 Oktober om 11:00 vanuit die NG gemeente Parys-Wes.

  • Rus sag oom Coen, ek sal jou nooit vergeet nie.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button