Kabeldiefstal – ergste nóg – dit gaan lank vat om te herstel
Onmoontlik om dadelik by al die klagtes uit te kom

Die omvang van kabeldiefstal in Parys, veral die afgelope twee dae, is die ergste wat nóg gesien is. Só erg dat die moontlikheid bestaan dat sommige dele dalk eers teen Maandag moontlik krag sal hê.
Die swaar reën en wind van die afgelope week, en Eskom-beurtkrag wat verdere las op die reeds brose netwerk plaas, het elektrisiëns van die Ngwathe munisipaliteit alreeds laat hardloop omdat daar eenvoudig net nie genoeg hande of voertuie is om by al die klagtes wat gerapporteer word, te kan uitkom nie.
Daarbenewens kan ‘n munisipaliteit ook net soveel herstel voorraad aanhou, wat nie naastenby genoeg is vir die ongekende vraag na materiaal wat nou ontstaan het weens probleme danksy beurtkrag, weersomstandighede en kabeldiefstal nie.
Van die verskaffers kan eers teen Maandag help met materiaal.
Hoewel daar mense is wat reeds al vir minstens twee dae sonder krag is, sal daar eers na die individuele klagtes omgesien moet word, waarna beweeg kan word na die dele waar kabel gesteel is en groter herstelwerk nodig is, omdat stukke kabel nie net ingelas kan word nie.
Die reaksietyd sal noodgedwonge ook van die beskikbaarheid van materiaal afhang. Dele wat deur die kabeldiefstal geraak, sluit onder andere in Boomstraat, Delverstraat, Steytlerstraat en Van Collerstraat. Gister is reeds onverpoosd gewerk aan kragpale wat omgewaai het in die Tumahole-woonburt.
Die Ngwathe munispaliteit se tegniese afdeling het ‘n ernstige beroep op alle nood- en whatsapp-groepe gedoen om nie kragprobleem rapporterings na enige van die elektrisiëns se nommers te stuur of bloot net op groepe te rapporteer nie.
Slegs klagtes wat gerapporteer word by die Brandweer en munisipale noodnommer sal hanteer word om seker te maak dat die tegniese span van een sentrale punt af alle klagtes wat gerapporteer word, ontvang
Skakel asseblief (056) 811 5834 of 082 909 3464
Die publiek is die versekering gegee dat die span so vinnig as moontlik probeer om by alle klagtes uit te kom, maar is dit nodig dat die publiek asseblief geduldig sal wees met die herstelwerk weens die geweldige omvang en hoeveelheid probleme wat hanteer moet word.
Kabeldiefstal is ‘n baie groot probleem in Parys. Asseblief as jy enigiets verdags sien of hoor moet jy die polisiestasie, sekuriteitsmaatskappye of We Care sonder versuim kontak. Dit is nou meer as ooit nodig dat inwoners sal help met buurtwaggroepe om saam te staan om kabeldiefstal stop te sit. Kabeldiefstal veroorsaak nie net ongerief vir verbruikers nie, maar enorme verliese vir die munisipaliteit. Elke lid van die publiek moet help om die oë en ore teen misdaad te wees.



