NewsNews

“Partykeer gebeur die grootste oomblikke wanneer jy dit die minste verwag”

Soos wanneer jy Bruce Fordyce in Parys se strate op 'n Saterdagoggend raakloop

“Partykeer gebeur die grootste oomblikke wanneer jy dit die minste verwag…” “Dit kan byvoorbeeld gebeur dat jy en jou pa met jou brakkies langs die rivier stap, en die Comrades-legende, Bruce Fordyce, kom van voor af!”

En wat was Bruce se woorde aan die blinde Chris Stander toe hy hom vanoggend in Parys so onverwags raakloop? “I hear between us we have fifty and we won nine.” “What a man, what a moment!”

Só het Chris se dogter, Magriet Stander, vanoggend op Facebook geskryf oor dié  ontmoeting. Chris onthou nog soos gister die dag in 1986 toe hy sy eerste Comrades gehardloop het. “En die man wat ek vanoggend raakgeloop het, het daardie dag sy sesde Comrades gewen,” vertel Chris. “Wat nogal aardskuddend belangrik is, is dat Bruce my daardie dag met 4 en ‘n half uur gewen het,” sê Chris dan met sy kenmerkende skerp sin vir humor.

Chris het altesaam 235 amptelike padwedlope al voltooi. Van die 235 was 81 ultra-marathons (wedlope langer as 42,2km),  en 77 standaard marathons (42,2km elk),  35 halfmarathons, 22 wedlope van 32km elk en ‘n aantal korter wedlope. Onder die ultra-marathons tel sy 20 Comrades-marathons waarvan sy laaste Comrades in 2015 was.

Deesdae is Chris eerder ‘n stapper, maar as die geleentheid hom voordoen mag hy dalk weer ‘n korter wedloop draf, sê Chris.

Vir Chris sien jy gereeld langs die rivier in Grewarlaan op en af stap, of saam met Paul Noome as hulle hul verskillende roetes doen.

Selfs parkrun is vir Chris geen nuutjie nie. Hy het al 30 parkruns voltooi en hoop om van volgende Saterdag aaneenlopend te kan deelneem om ook sy 50 parkrun mylpaal te bereik.

Veral noudat parkrun in Parys weer volstoom aan die gang is met ‘n ongelooflike suksesvolle eerste Egweni River Lodge parkrun wat vanoggend, Saterdag 9 Oktober, gehou is. Vanoggend was daar bykans dubbel die hoeveelheid deelnemers wat voor inperking hier by ‘n parkrun gesien is. 

     

Dié foto van Chris Stander en Belinda Ströh is vroeër geneem tydens die virtuele Spar Ladies Race. Die virtuele wedloop is gedoen in die tyd toe daar nog strenger inperkingsregulasies was en geen parkrun nog kon plaasvind nie. Wat ‘n blye oomblik toe daar vanoggend, 9 Oktober, ná 19 maande uiteindelik weer ‘n parkrun in Parys aangebied kon word met bykans dubbel die hoeveelheid deelnemers as wat gewoonlik hier gesien is.

In 2020 het Gazette  só berig oor Chris se virtuele Comrades-ervaring:

Daar was nie ’n skare nie. Ook nie die duisende atlete en adrenalien in Durban en Pietermaritzburg se strate nie. Of die triomf van ’n Comrades-medalje om die nek nie. Net die ysige Vrystaatse vroegoggend winterlug wat byt aan jou kaal bene, en hande wat die pad moet ‘sien’. Só het die blinde Chris Stander van Parys op 14 Junie die virtuele Comrades aangepak in Grewarlaan – van hobbel na hobbel gestap – wit kierie in die hand, met sy vrou, Marina wat op die hoek van Grewarlaan en Johannastraat, gewag en ondersteun het. Hoewel hy hom totaal en al uitgeleef het in die Comrades, was hierdie eerste vir die historiese wedloop, vir dié afgetrede prokureur ’n unieke belewenis. Met elke tree het die voëlsang, die geritstel van blare en gekabbel van water oor rotse die prentjie ingekleur van die roete langs die Vaalrivier wat hy nie kon sien nie.

 

“As ek my hart kon volg sou ek rugby en krieket wou speel,” sê Chris wat ’n absolute sportfanatikus is en sy statistiek ken, laat Marina hoor. Maar al was die rugby- en krieketveld hom nie beskore nie omdat hy blind gebore is, het hy op skool en selfs as Tukkies-student in die stoeikryt geklim. Die hardloopgogga het gebyt toe hy in 1970 as skolier by die Pionierskool vir Blindes in Worcester aan die landwye 20km lenteloop deelgeneem het. Sommer vir die pret, gesels hy, het heelwat van ons dit gedoen, sonder dat ons spesifiek geoefen het. Dit was vasbyt en swaarkry met die draf en stappery wat afgewissel is.

 

’n Jaar later was daar die opsie van ’n 40km. “As ek moet terugdink het my aangetrokkenheid tot langafstand padwedlope hier begin.” Maar die drawwery het eers in alle ywer begin toe Chris in Pretoria begin voorberei het vir die SA Spele vir Gestremde Atlete. Hier het hy van gewigstoot tot driesprong en naellope gedoen. Toe die egpaar hulle in Piet Retief gevestig het, het hy saam met ‘n vriend begin oefen en word hy een van die stigterslede van die Assegaai-marthonklub waar hy ook 25 jaar voorsitter was. Die klub bied jaarliks die Assegaai-marathon aan wat vanjaar reeds vir die 33ste keer gehou is. Aan hardloopmaats het dit Chris nooit ontbreek nie. Met ’n tekkieveter geknoop in ’n lus wat hy en sy hardloopmaat in hul hande hou, is dit die kompas wat sy voete rigting gee.

So het hy sy 20 Comrades-marathons voltooi, en ook 25 Loskop Ultra-marathons aangepak. Selfs by parkruns is hy ’n gereelde gesig. Ons kinders is Comrades-kinders, sê Chris en Marina, wanneer hulle vertel hoe hul kinders langs wedlope grootgeword het. Al is Marina nie ‘n atleet nie was sy oor jare getrou op haar pos – of dit met die beplanning van wedlope was, of langs die roete om Chris te ondersteun. Parys se strate is welisvaar vir hom ’n uitdaging – nie oor die slaggate wat sy wit kierie nog kan raakvoel nie, maar die onverwagse gate en leivore.  

 

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button