Wanneer ons gewone ouens voëls kyk, luister ons na hulle, ons kyk hoe lyk hulle, en neem graag foto’s om vir ander te wys wat ons gesien het. Dit verskaf ons groot vreugde. Dan is daar ook die groep wat maklik duisende kilometers ver sal ry of vlieg om nog een by hul lys te voeg. Verder is daar voëlkenners wat voëls vang, ring, opmeet, aanteken wat hulle gevind het, en hul dan weer vrylaat. Billy Attard van Polokwane is een van die geregistreerde voëlringers.
Hy het die volgende oor sy ervaring hiermee geskryf in die November-uitgawe van die aanlyn nuusbrief, Cyber Wings.
Dit vertel jou iets anders oor ons voëlskat. “Tydens voëlringsessies kry mens die idee van hoe voëltjies se kloue lyk en ‘voel’. Die swaeltjies en renostervoëls het verskriklike skerp naels aan hul kloue – dit voel soos speldeprikkels. ”
Onlangs is ek ook deur ‘n Olyfspeg tydens ringery in die Wolkberge gepik dat die bloedspikkels soos ‘n ry kolletjies op my vinger gesit het.” “As mens voëls ring dan ontwikkel jy ‘n hoër pyndrempel, want jy kan nie die voëltjie sommer los nie – nee, dit moet gemeet en gering word, en vir fotosessies vasgehou word, terwyl dit jou baie seer byt!”
“As dit kom by roofvoëls is dit egter ‘n nog erger storie. Normaalweg het mens ‘n ‘helper’ nodig om daardie sterk bene vas te hou terwyl die ringer die opmetings doen.”
“Dit is interessant om te ervaar hoe sterk groter voëls se beenspiere is. Dit het ek met die ring van uile en kleiner roofvoëls al ervaar. Ek het ook al van hul naels in my vinger gekry dat die bloed loop.” “So, om voëls te ring is nie vir die kleinseriges nie!”





