Daar sal reeds vandeesweek begin word met opruiming en opbou by die Voortrekkers se geskiedkundige Doornkloof-plaas net buite Lindley ná die naweek se tragedie waarin die 59-jarige Chris Gillomee (59), terreinbestuurder by Doornkloof deur vloedwater meegesleur is, en groot skade Vrydagnag aan infrastruktuur op die plaas aangerig is deur die watermassa.
Met die fratsvloed het ‘n watermassa uit die Kroonstad-rigting gekom toe die Sterkspruit sy walle oorstroom het nadat tot 140mm reën Vrydag in die distrik geval het. Gillomee het gehelp om kinders van Hoërskool Witteberg wat op ‘n koorkamp by die Sarel Cilliers-terrein op Doornkloof was, na veiligheid te bring. Sy liggaam is na ‘n soektog gekry.
Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat het Sondag gesê dat ‘n span saamgestel is van offisiere, staatmakers en algemene werkers wat sal begin met die opruimingswerk met toerusting wat ontvang is vir dié taak. Water het onder meer dwarsdeur die Sarel Cilliers-saal geloop en is die 150-jaar oue muur by die ou tuin ook deur die vloedwater platgevee.


‘n Doornkloof-rampfonds is intussen gestig vir die herstel en opbou van die Doornkloof-plaas. Die rekeningbesonderhede is: Doornkloof rampfonds, Absa tjekrekening, rekeningnommer 4102686362
Elke bydrae sal opreg waardeer word.
Daar is reeds kampe beplan vir Maart en sal verskeie projekte gedoen word om die infrastruktuur en kampterrein so spoedig moontlik te herstel.
Parys se Voortrekkers het oor jare op Doornkloof gekamp en lê die kampterrein wat die plaas van Voortrekkerleier Sarel Cilliers was, vir baie na aan die hart. .



