
Binne tien dae nadat die uitvoerende burgemeester vir Ngwathe, rdl. Victoria de Beer, se hulp gevra is om weer die voetoorgange by die skole in die dorp duidelik te merk, veral in Eerstelaan, is daar blitsig werk gemaak hiervan, nadat dit deur rdl. Marie le Cock op versoek van die laerskoolhoof, onder haar aandag gebring is. Op 11 Februarie is die voetoorgange geverf en het ‘n ouer ook bygedra vir voetoorgangborde wat reeds by die voetoorgang tussen die laer- en hoërskool in Schilbachstraat opgesit is.
Omdat daar soveel kinders oor die pad beweeg in Schilbach-, St Jan, en Eerstelaan, veral wanneer die skool begin en uitkom, is dit nodig dat motoriste bewus sal wees van die voetoorgange en die kinders geleentheid sal gee om veilig oor die pad te kan beweeg.
Daar word verwag dat nog voetoorgangborde ook opgesit sal word by die ander voetoorgange.

Werknemers van die Ngwathe munisipaliteit was vandag, Dinsdag 15 Februarie, ook besig om ander padmerke in die sentrale sakekern weer netjies te verf.




