|

Graan SA se NAMPO Oesdag, die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, is na ‘n twee-jaar lange afwesigheid gereed om ‘n skouspel buite Bothaville aan te bied vanaf 16-20 Mei 2022. Vir die eerste keer in die geskiedenis word die NAMPO Oesdag oor 5 dae aangebied!
Te midde van voortdurende onsekerheid onder die heersende nasionale ramptoestand, het Graan SA gister op sy jaarlikse kongres ten gunste van die aanbieding van die NAMPO Oesdag in sy oorspronklike tydgleuf in Mei gestem, met die nakoming van enige nasionale regulasies wat in plek mag wees.
Landbouprodusente en die publiek sal hier weer eerstehands kan beleef hoe moderne landbou lyk.
Die 54ste NAMPO Oesdag, wat as die hartklop van landbou in Suid-Afrika beskou word, bied ‘n unieke platform waar produsente hul kennis kan uitbrei en nuwe tegnologie en produktiwiteitsoplossings kan verken. Verder bied NAMPO nie net ‘n geleentheid vir gesprek en dialoog nie, maar stel dit ook die publiek en ander rolspelers in staat om kommersiële landbou en voedselveiligheid en -sekuriteit in aksie te ervaar.
“Die uitwerking om sedert 2019 nie ’n Oesdag by NAMPO Park aan te kon bied nie, het verreikende gevolge nie net vir die organisasie gehad nie, maar ook vir die omliggende dorpe. Die plaaslike distrik, wat nog nie heeltemal van buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie, maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat deur die Oesdag meegebring is,” het Graan SA Bemarking, NAMPO & Navorsingshoof, dr Dirk Strydom gesê.
NAMPO-uitstallers wil produsente ontmoet en weer hul produkte ten toon stel. In oorleg met uitstallers het meer as 80% aangedui dat dit nodig is om die Oesdag in Mei 2022 aan te bied, en was dit eens dat ‘n ekstra dag in die skedule broodnodige sakegeleentheid kan byvoeg. Met byna 800 uitstallers is NAMPO dié platform om met die landboubedryf se toprolspelers te netwerk, vriendskappe en verhoudings te versterk en te geniet wat hierdie unieke vertoning bied in ‘n rustige plaas-atmosfeer.
Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdag, is die beste tegnologie en kennis vir produsente om volhoubaar te boer by NAMPO te vinde. “Al bly die landbou onder geweldige druk, het landbouers steeds genoeg passie vir boerdery om elke aspek van landbou wat die Oesdag bied te verken om mededingend en relevant te bly,” het hy gesê.
Die afwesigheid van NAMPO Oesdag het die kritieke rol wat hierdie platform speel om netwerkvorming in die landbousektor te fasiliteer, beklemtoon. “Om regeringsverteenwoordigers en belanghebbendes uit die landbouwaardeketting te ontvang, bied geleentheid vir belangrike en soms uitdagende gesprekke om plaas te vind in ‘n omgewing wat bevorderlik is vir en gemik is op die bevordering van die sektor plaaslik en regdeur die Sub-Sahara-streek,” het Dr Pieter Taljaard, Graan SA se Uitvoerende Hoofbestuurder mee afgesluit.
Besonderhede oor kaartjieverkope en toegangstye sal mettertyd bekendgemaak word.


|