Nou begin die groot werk vir Udolpho se ossewa-kamp
Nou begin die groot werk vir Udolpho se ossewa-kamp


Met al 16 ossewaens nou veilig by hul nuwe tuiste op die FAK se Udolpho rivierplaas net buite Parys ná die groot trek van Clarens na Parys die afgelope naweek, lê die groot taak nou voor om die kamp ingerig te kry sodat mense eersdaags hierdie besondere erfenis sal kan waardeer as nuutste toevoeging tot akkommodasie fasiliteit by dié vakansieoord.
Die FAK het die hele ossewa-kamp gekoop wat voorheen mense van heinde en verre na die skilderagtige Vrystaatse dorpie Clarens gelok het vir die unieke ervaring om in die ossewaens te kon slaap. Een van die ossewaens dateer uit die 1800’s en is een van net drie wat bewaar gebly het na die Anglo Boere-oorlog toe meeste ossewaens verbrand is. Die res van die waens dateer meestal uit die vroeë 1900’s en word die waens in die kamp ook gelys in ‘n boek van prof. Erik Holm.
Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.



Van die waens op hul nuwe tuiste, Udolpho
Vandeesweek sal die ablusiegeriewe en veldkombuis wat saam met die ossewa-kamp deur die FAK gekoop is, ook van Clarens na Udulpho geskuif word. Daarna moet die sementfondasies waarop die waens sal staan, gegooi word en sal die seile van die waens wat vir die verskuiwing afgehaal moes word, weer teruggesit word.
Die waens wat eintlik transportwaens is, bied slaapplek vir tussen vier en agt persone, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa”
Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp wat akkommodasiegeriewe bied en is boonop ’n unieke kampervaring weens die historiese waarde daarvan. Vir kampeerders bied dit ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe.
Die ossewa-kamp by die gewilde Udolpho kampterrein teenaan die Vaalrivier-oewer, sal ook ‘n groot inspuiting vir Parys se toerismebedryf beteken.
Udolpho is op die Vaal Eden-pad net buite Parys.





