NewsNews

Ossewa-kamp later vandeesmaand geopen

Die ossewa-kamp by die FAK se Udolpho-rivierplaas net buite Parys, sal later vandeesmaand amptelik geopen word.

Vyftien van die 16 ossewaens wat vroeër vandeesmaand in ’n geskiedkundige trek van Clarens na Parys gebring is deur ’n handjievol vrywilligers, is in twee laers getrek op Udolpho, en sal die laers op 25 Junie amptelik geopen word as jongste toevoeging tot die akkommodasie fasiliteite by die oord.
Die 16de wa is na die Voortrekkermonument in Pretoria geneem waar dit deel sal vorm van ’n laer-uitstalling.
Volgens Jan Danie Malan, die FAK se kultuurorganiseerder in die Vrystaat, sal die ossewa-laers by Udolpho bekend staan as die Liebenberg-laer en die Gerhard Wille-laer.
Die ossewaens sal mense die unieke en besondere geleentheid bied om hierdie erfenis te kan waardeer, met die oudste van waens wat dateer uit die 1800’s, en die res wat dateer uit die vroeë 1900’s.
Die wa wat uit die 1800’s dateer is een van net drie wat na die Anglo Boere-oorlog behoue gebly het, nadat meeste ossewaens tydens die oorlog verbrand is. Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.
Die FAK het die hele ossewa-kamp gekoop wat voorheen mense van heinde en verre na die skilderagtige Vrystaatse dorpie Clarens gelok het vir die unieke ervaring om in die ossewaens te kon slaap.
Die ablusiegeriewe en veldkombuis wat saam met die ossewa-kamp deur die FAK gekoop is, is ook reeds van Clarens na Udulpho geskuif.
Die waens wat eintlik transportwaens is, bied slaapplek vir tussen vier en agt persone, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa”
Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp in die land, en sal dié kamp by die gewilde Udolpho kampterrein teenaan die Vaalrivier-oewer, ook ‘n groot inspuiting vir Parys se toerismebedryf beteken. Udolpho is op die Vaal Eden-pad net buite Parys.

Meer oor Gerhard Wille
Ollie Esplin, wat die ossewa-kamp op Clarens bedryf het, vertel dat die kampstorie oorspronklik by sy skoonpa, Gerhard Wille, begin het. Hy was ‘n veteraan trekkerversamelaar wat soos wat hy rondgegaan het op plase, ossewaens aangekoop het waar hy ook al een sou teëkom.
In die laat tagtigerjare het hy op sy wildsplaas en saaiboerdery op die plaas Hoekfontein in die Ficksburg-distrik, begin om agt van die waens wat hy oor tyd bymekaar gemaak het, in ‘n laer te trek en te verhuur as akkommodasie.
Die waens het letterlik van oor die land gekom
Die ossewa-kamp by Ficksburg was destyds so gewild dat Wille se skoonseun, Olie, wat ‘n avontuur toerisme onderneming in Clarens bedryf, in 2006/7 ‘n soortgelyke kamp daar begin het met agt waens. Toe Wille se plaas ongeveer drie jaar gelede verkoop is, is die laaste waens ook na Clarens geskuif. Wille is in 2021 aan kanker oorlede. Hy was ‘n man wat ‘n passie gehad het vir die toerismebedryf en wat bekend was vir sy besondere gasvryheid.

Die Liebenberg-laer
By Liebenbergkoppie wat langs die R500 net buite Parys geleë is, is ongeveer 14 Voortrekkers dood en by die Vaalrivier twee op 23 Augustus 1836. Die Voortrekkerlaer van Barend Liebenberg is teen die Vaalrivier (12,4 km buite Parys op die Fochville-pad, R500) deur krygers van die amaNdebele (Matabeles) van Mzilikazi (Silkaats) aangeval en uitgemoor.
Later daardie selfde oggend word ‘n laer ‘n enkele kilometer stroomaf bestorm. Albei hierdie groepe was deel van Andries Hendrik Potgieter se trek wat die Kaapkolonie waarskynlik teen die einde van 1835 verlaat het. Barend Liebenberg se kamp was aan die voet van die alleenstaande koppie op die huidige plaas Rietpoort.

 

Related Articles

Back to top button