
Jongmense van die NG Vredefort-gemeente en die Dinamika-gemeente van die dorp gaan Saterdag, 16 Julie vanaf 09:00 in Vredefort se strate invaar om skoon te maak.
Vanaf die NG kerkterrein sal daar deur die middel van die dorp beweeg word tot by die Vredefort-dam om skoon te maak, want met dié aksie wil hierdie jongmense weer ‘n glimlag op mense se gesigte sit.
Selfs ouers en volwassenes word genooi om deel te wees van die aksie. Hulle kan enige tyd by die groep aansluit soos wat hulle beweeg.
“Ons wil graag hê dat hierdie jongmense en inwoners van die dorp sal kan trots wees op wat hulle die dag in die dorp gedoen het,” sê ds. Johan Lötter van dié NG gemeente.
“Ons wil ons gemeenskap wys wat die karakter en roeping van ‘n kerk is.”
Wanneer daar klaar skoongemaak is, sal daar saam worsbroodjies en koeldranke geniet word, sê ds. Johan. Hy vertel dat daar selfs ‘n eerste, tweede en derde prys sal wees vir die meeste sakke wat volgemaak word.
Die aksie word om 14:00 afgesluit met groepfoto’s. Kom loop Saterdagoggend, 16 Julie saam deur die dorp en neem deel aan die skoonmaak, maar belangriker nog – kom deel jou glimlag. Vir navrae oor die aksie skakel ds. Johan by 071 495 0552.






