
Graan SA en Alfa sal vanaf 29 September tot 1 Oktober die eerste NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag en Buitelewe-ekspo aanbied op NAMPO Park net buite Bothaville.
Dié twee grotes in die bedryf het in 2019 al besluit om hande te vat en ‘n nuwe ekspo op die landboukalender te plaas. COVID-19 het egter dié planne vir twee jaar op ys geplaas.
Die lewendehawe bedryf in Suid-Afrika is aan die groei en vorm ‘n belangrike deel van die plaaslike ekonomie. Hierdie groei was duidelik sigbaar in die feit dat ALFA oor ‘n vier jaar periode gegroei het tot die beste lewendehawe-ekspo in die land.
Die volgende logiese stap was om dit nog groter te maak, en is NAMPO Park gekies as die ideale plek waar ALFA sy vlerke kon sprei.
ALFA bied sedert sy ontstaan verskeie unieke platforms wat aan rolspelers in die lewendehawe bedryf uitstekende besigheidsnetwerk geleenthede bied. Dit geld vir plaaslike rolspelers, en belanghebbendes regoor die Afrika-kontinent.
Vir 2022 is daar weer ‘n propvol lewendehawe program vir jonk en oud. Daarmee saam bestaan daar tans ‘n groot behoefte onder produsente vir ‘n jag- en buitelewe-ekspo met ‘n praktiese aanslag.
Lewendehawe, buitelewe en jag is komplimenterende aspekte van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap, en die kombinasie bied ‘n wenresep.


NAMPO Park beskik oor reeds goeie stelsels en infrastruktuur onder andere genoegsame parkering, kiosks, ablusie fasiliteite, vee fasiliteite en ander lokale wat die groot geleentheid nie alleen kan huisves nie, maar ook geleentheid vir groei fasiliteer. Boonop bied NAMPO Park nog ‘n groot voordeel – die Suid-Afrikaanse produsent voel reeds tuis daar.
‘n See van geleenthede lê voor wat praktiese demonstrasies van 4×4 voertuie, karavane, kampeer en jag toerusting insluit. Dit sluit selfs ‘n moontlikheid van ‘n skietbaan in waar belangstellendes die praktiese ervaring van toerusting kan ervaar en geniet.
NAMPO Park is gedurende die ekspo ook die huis van die nasionale SARRC rally, en kan besoekers bekende renjaers in aksie sien.
Die lewendehawe projekte sluit ‘n verskeidenheid projekte in wat al die verskillende lewendehawe spesies dek, naamlik vleis- en melkbeeste, kleinvee, varke en bokke. Dit sluit onder andere die Nasionale Vleisbees-Interraskampioenskappe, die Junior Interras (Landbouskole), die verskillende prestasie-kampioenskappe (Groot- en Kleinvee), en die Money maker kwalifiseerders (Groot- en Kleinvee) in. Verder is die jeugprogramme met die landbouskole en studente ook betrokke, en die programme en mini-ekspos met werksperde, werkshonde, konyne en pluimvee, is ook terug.
Met ‘n groot verskeidenheid uitstallers uit die lewendehawe, jag en buitelewe industrieë, beloof die ekspo om vir lewendehawe en natuurliefhebbers, jagters, avontuurlustiges en natuurlik die adrenalien verslaafdes, dié een te wees.





