
Die polisie soek na mense wat moontlik ooggetuie was van ‘n voorval op 25 Julie in Vaalpark, toe ‘n 57-jarige man vermoor is.
Na bewering het die 37-jarige verdagte wat deur die polisie vir die moord gearresteer is, sy vriendin saam met die 57-jarige gekry op hul pad werk toe, nadat hy haar bewegings dopgehou het.
Die verdagte het na bewering die oorledene verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek en toe te voet van die toneel gevlug, sé knst. Langa Maselela, provinsiale woordvoerder van die polisie.
Die polisie is na die toneel ontbied en het lede van die nooddienste die man op die toneel dood verklaar. Die verdagte is dieselfde dag nog gearresteer.
Hy het vandag, Woensdag 27 Julie, op ‘n klag van moord voor die hof verskyn, en word ook as onwettige immigrant aangekla.
Mense wat moontlik inligting het wat kan help met die ondersoek is gevra om knst George Maartens te skakel by 079 544 2431 of anoniem inligting deur te gee op die MySapsApp.




