News

Tugverhoor kom na ondersoek oor klagte teen tegniese direkteur

'n Onafhanklike ondersoeker wat die geldigheid van die klagtes teen mnr. Malunga moes ondersoek, het Dinsdag sy terugvoerverslag tydens 'n spesiale raadsitting, voorgehou.

Die Ngwathe munisipaliteit se tegniese direkteur, mnr. T. Malunga, gaan wel voor ‘n tugkomitee moet verskyn vir klagte wat verband hou met pligsversuim, en versuim om wettige opdragte uit te voer. ‘n Onafhanklike ondersoeker wat die geldigheid van die klagtes teen mnr. Malunga moes ondersoek, het Dinsdag in sy terugvoerverslag tydens ‘n spesiale raadsitting, aangedui dat daar gronde is vir vervolging.

Die tugverhoor moet binne drie maande afgehandel word, en moet die waarnemende munisipale bestuurder nou ‘n voorsittende beampte en ge- tuienisleier aanstel. Laasgenoemde sal ook die klagstaat moet formuleer.
Die raad het vroeër besluit om mnr. Malunga tydelik te skors hangende die uitslag van die ondersoek. Hy het toe sewe dae gehad om redes te gee waarom nie met die skorsing voortgegaan moet word nie. Die tydelike skorsing sal nou geld totdat daar uitslag is van die tugverhoor.

Intussen het ANC-raadslede verlede week ‘n besluit deurgedruk dat mnr. Phele, wat aan die stuur van watervoorsiening in die Ngwathe munisipaliteit staan, tydelik sal waarneem as tegniese direkteur terwyl gewag word op uitsluitsel oor die posisie van mnr. Malunga.

Die raad se besluit is heftig teengestaan deur opposisiepartye waaronder die Vryheidsfront Plus wat in die raad die mening gelug het dat Ngwathe nie tans oor ‘n amptenaar beskik wat na die party se mening geskik is om in dié sleutelpos met sy enorme uitdagings te kan waarneem nie.

Die Vryheidsfront Plus het gesê dat hy uiters bekommerd is oor die tekort aan hoë vlak vaardighede tans by die munisipaliteit, en sal druk vir geskikte persone om die talle vakante senior bestuursposte gevul te kry.
Wetgewing bepaal dat ‘n persoon nie langer as drie maande in ‘n pos kan waarneem nie.

Die pos van die tegniese direkteur is nie die enigste senior bestuurspos binne die Ngwathe munisipaliteit waaroor daar kommer is nie. Met die uitsondering van die tegniese direkteurspos is al die ander senior bestuursposte steeds vakant.

Die munisipale bestuurder, me. Nonhlanhla Baleni het vroeër vanjaar na net vyf maande in die pos met 24-uur kennis bedank. Die Vrystaatse provinsiale regering het daarna mnr. T. Ngese gesekondeer om in die pos as munisipale bestuurder waar te neem tot einde Junie sodat die nodige prosesse deur die raad gevolg kan word om ‘n munisipale bestuurder aan te stel.

Nog ‘n sleutelpos, dié van hoof finansiële beampte is na verskeie persone reeds in die pos waargeneem het die afgelope maande, steeds nie gevul nie, omdat ‘n geskikte kandidaat nie gekry kon word nie. Die provinsie het nou ‘n kandidaat gesekondeer om in die pos waar te neem vanaf Dinsdag, 13 Junie.

Die verpligtinge van die Direkteur Korporatiewe dienste en Direkteur Gemeenskapsdienste word tans deur twee senior bestuurders in die onderskeie departemente behartig wat waarneem in dié poste, omdat ook hier nog nie ‘n aanstelling gemaak is nie. Mnr. Nthiba Monyeke neem waar as Direkteur Gemeenskapsdienste, en mnr. Zanele Majivolo as Direkteur Korporatiewe dienste. Dit is intussen bevestig dat al die poste wel geadverteer is. Aansoeke sluit 23 Junie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button