Vredefort-seun red meisies by Diaz-strand
Min het Nicholis Vermeulen kon dink dat soveel drama met 'n seeredding sou afspeel kort voordat hulle terug huis toe sou vertrek.
Toe hy die dogtertjies om hulp hoor roep het, het die 17-jarige Nicholis Vermeulen van Vredefort nie twee keer gedink om die see se golwe te trotseer om hulle van verdrinking te red nie. In die benoude oomblikke in die water, moes hy homself dwing om kalm te bly terwyl die jongste van die twee dogtertjies hom desperaat om sy nek gegryp het.
Maar al word sy weldaad wyd geloof, is dié graad 10-leerder van Hoërskool Parys, en tweede span rugbyspeler van sy skool beskeie oor sy dapper weldaad. Hy is net dankbaar dat hy die ouers die hartseer kon spaar van ‘n verdrinking, sê hy.
Nicholis sou op 14 Junie vir sy skool rugby gespeel het, maar omstandighede wou dit anders hê, vertel hy. Hy is saam met ‘n vriend, Zane, Mosselbaai toe vir ‘n begrafnis. Voordat hulle Sondag sou terugkeer, is Nicholis, Zane, en Zane se sussie en nefie vir oulaas na die Diaz-strand by Mosselbaai om skulpe op te tel.
“‘n Paar dogtertjies het intussen ook strand toe gekom om te kom swem,” vertel Nicholis. “Ek was nog op die rotse en Zane-hulle al terug op die strand, toe ek skielik iemand om hulp hoor skree het. Eers het ek gedink dis Zane, maar toe ek omkyk sien ek twee van die dogtertjies in die water. Ek kon sien hulle was in die moeilikheid,” het Nicholis vertel.
“Ek het eers die ouer dogtertjie van nege jaar gehelp om by die vlakker water te kom, en is toe na die jonger dogtertjie van ses jaar. Dit was ‘n rowwe stoei met die see, maar ek het net geweet ek moet aanhou probeer,” het Nicholis gesê.

Intussen het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Mosselbaai-diensspan die noodroep net voor 14:00 gekry, vertel diensbeampte Brian Cloete. Cloete sê daar is berig dat twee kinders gesukkel het om te swem en moontlik in sterk strominge vasgevang was.
Die NSRI-diensspan, Mosselbaai Brand- en Reddingsdienste, die Wes-Kaapse Regering se nooddiens, en die polisie is na die toneel. Daar gekom het hulle Nicholis gekry waar hy besig was om een van die dogtertjies uit die water te red, en het beamptes van Brand- en Reddingsdienste gehelp om die kind na veiligheid te bring.
Daar is ook gehelp om die ander dogtertjie uit die water te kry.
“Die sesjarige is deur paramedici behandel en in ‘n stabiele toestand na ‘n plaaslike hospitaal vervoer,” sê Cloete.
Beide kinders is oornag in die hospitaal gehou vir observasie, en is Maandag reeds ontslaan.
Cloete het Vermeulen geloof vir sy optrede wat daartoe bygedra het om die meisies se lewens te red, en sê Nicholis se ma, Biancha, dat hulle net so dankbaar is dat hy veilig teruggekom het. Sy het Nicholis beskryf as iemand wat sy laaste vir ander sal gee.
Die NSRI het na die voorval weer ‘n beroep op ouers gedoen om toe te sien dat kinders altyd onder verantwoordelike volwassene toesig is in en om water.



