Verskeie arrestasies is die afgelope week deur die polisie gemaak met die multidissiplinêre Vala Umgodi-operasie, wat gefokus het op die bekamping van onwettige mynaktiwiteite en gepaardgaande misdade in die Vrystaat.
Die operasie wat saam met mynsekuriteit op 17 en 18 Junie gehou is, het veral gefokus op die besit van onwettige smokkelware, betreding en immigrasie-oortredings in Vierfontein.
Op 19 Junie het ’n gesamentlike operasie met mynsekuriteit by ’n plaaslike myn in Vierfontein gelei tot die arrestasie van vier persone. Twee vroue is gearresteer vir betreding, en ‘n man is in hegtenis geneem weens oortreding van die Immigrasiewet. In ’n noemenswaardige deurbraak is nóg ’n man gearresteer nadat ’n onwettige vuurwapen, vermoedelik goudhoudende materiaal, dagga, en komponente van ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW)-uniform in sy kluis gevind is.
In ’n aparte voorval op 18 Junie het die “Vala Umgodi”-reaksiespan, in samewerking met mynsekuriteit, tydens spesiale patrollies ’n gat op die mynterrein ontdek. In die gat was verseëlde kos wat bestem was vir mense ondergronds, saam met plofbare detoneerders.
’n Rus- of slaapplek wat deur onwettige mynwerkers gebruik is, is ook deur die span in Theunissen ontdek. Twee mans wat op die toneel in Theunissen gevind is, is gearresteer, en kos en items wat met onwettige mynbou geassosieer word, is gekonfiskeer.
Op 17 Junie is drie mans, onderskeidelik 45 en 32 jaar oud, deur die span gearresteer nadat hulle op die mynterrein in Theunissen met goudhoudende materiaal gevind is.
Verdere ondersoeke is aan die gang, en nog arrestasies word nie uitgesluit nie, het die polisie gesê.