Local newsNews

Optrede van Finansies-minister teen munisipaliteite lankal nodig – AfriForum

Tesourie wil sien dat munisipaliteite hul skuldverpligtinge begin nakom.

 

Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se oorweging om moontlik die  uitbetaling van billike-aandeel- en voorwaardelike toelaes aan 39 munisipaliteite terug te hou weens dié munisipaliteite se versuim om aan hul finansiële verpligtinge te voldoen, is deur die burgerregte organisasie AfriForum verwelkom.  

Godongwana het verlede week sy departement se oorweging in ‘n brief aan die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), Velenkosini Hlabisa, aangedui en moes Hlabisa teen Donderdag skriftelike insette hieroor indien.

Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit is een van die grootste oortreders in dié geval. Volgens Godongwana se kennisgewing skuld dié munisipaliteit meer as R800 miljoen aan Rand Water alleen. Benewens die miljoene wat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit aan Rand Water skuld word drie ander munisipaliteite genoem wie se skuld ook die honderd miljoen kerf oorsteek – die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit.

Ingevolge artikel 216(2) van die Grondwet het die Nasionale Tesourie die mag om oordragte aan staatsorgane te staak indien hulle voortgaan om finansiële bestuursmaatreëls te oortree. Tesourie sal dan gedeeltes van die fondse  voorwaardelik vrystel vir die betaling van lopende en agterstallige skuld aan waterrade en ander krediteure. Indien daar voldoen word aan dié voorwaardes sal n volgende gedeelte uitbetaal word. Dít is ’n praktiese stap om te verseker dat openbare fondse nie vermors word deur amptenare nie, is gesê.

Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, is munisipaliteite vir té lank toegelaat om openbare fondse te vermors sonder enige nagevolge. Steffens sê jaar na jaar skets die Ouditeur-Generaal se verslae ’n donker prentjie van munisipale finansies wat gekenmerk word deur onbefondsde begrotings, korrupte tenderprosesse, onreëlmatige uitgawes en onbetaalde statutêre verpligtinge. Sy sê ten spyte van herhaalde waarskuwings was daar geen werklike gevolge nie en het ’n gebrek aan optrede  ’n kultuur van wanbestuur en korrupsie gekweek.

AfriForum is ook vir jare al in ’n hofstryd teen Rand Water gewikkel om inwoners se regte te beskerm wat weens tekortkominge in munisipaliteite bedreig word.

AfriForum sê dat gemeenskappe wat onder hierdie munisipaliteite val in die verlede die slagoffers van drakoniese maatreëls was as gevolg van hul munisipaliteite, met  onder meer drukverlaging en beurtwater om munisipaliteite te dwing om hul uitstaande skuld te vereffen.

Gedeeltes van Bethal het in 2024 vir drie maande geen water gehad nie weens drukverlaging wat deur Rand Water toegepas is as gevolg van agterstallige rekeninge, sê AfriForum in sy verklaring. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld sê die organisasie het in hierdie tyd in samewerking met boere uit die gemeenskap 2 miljoen liter water gratis aan die gemeenskap gelewer.

Die organisasie sê hy sal voortgaan om die implementering van die Nasionale Tesourie se plan fyn dop te hou, . “Gemeenskappe verdien basiese dienste en ’n eerlike regering, nie ’n kleptokrasie wat openbare geld verorber terwyl inwoners sit met droë krane, rioolbesoedeling en donker strate nie,”  sê Steffens.

Die Vryheidsfront Plus waarsku egter dat geld wat van sukkelende munisipaliteite weerhou word nie genoeg is nie. Die party sê al drie regeringsvlakke het ‘n verantwoordelikheid om seker te maak inwoners se regte word beskerm.

Die party het ook die Vrystaatse LUR vir Cogta, Saki Makoena, gevra om aan te dui hoe sy departement effektief gaan ingryp by munisipaliteite wat nie hul billlike aandeelfondse aanwend tot voordeel van inwoners nie. Van die munisipaliteite wat moontlik geraak kan word  is 11 in die Vrystaat provinsie.

  • Ngwathe se Uitvoerende Burgemeester, rdl. Victoria De Beer-Mthombeni het Dinsdag in ‘n openbare kennisgewing gesê dat kennis geneem word van die inhoud van ‘n brief van die Minister van  Samewerkende Regering en Tradisionele Sake oor  beoogde weerhouding van billike aandeel befondsing. In die verklaring, uitgereik deur Ngwathe se Kommunikasie-afdeling, benadruk De Beer dat die Ngwathe munisipaliteit die nodige dokumente ingedien het rakende die kwessie, en dat die munisipaliteit op datum is met betalings van alle derde partye.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button