Nuwe stortingsterrein sal gekry moet word
Probleme met die lisensie van die stortingsterrein is onlangs uitgewys.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sal ‘n nuwe stortingsterrein vir Vredefort moet identifiseer. Die stortingsterrein se lisensie het verval en is die besluit ná ‘n inspeksie van die terrein geneem, het Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha vandeesweek by navraag aan die Gazette gesê.
Mothamaha het ook bevestig dat die munisipaliteit besig is met ‘n tenderproses vir ‘n onafhanklike omgewingsassesseringspraktisyn wat die huidige stortingsterrein langs die S80, kan rehabiliteer.
Totdat die terrein gerehabiliteer is, is die munsipaliteit verantwoordelik om die bestaande stortingsterrein te beveilig.
Ngwathe se lisensie vir die Vredefort-stortingsterrein het al in 2017 verval. Dit het aan die lig gekom ná navrae van die Gazette en die Koepel Boerevereniging-bestuur. ‘n Skrywe van die Departement van Ekonomiese, Kleinsake Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea) het bevestig dat Ngwathe se aansoek om uitbreiding van die stortingsterrein in 2017 geweier is, en is ‘n nuwe aansoek van die munisipaliteit oënskynlik nie daarna deur die departement ontvang nie.
In die 2017 skrywe van die departement word die probleem van grondwaterbesoedeling onder meer uitgelig.
Boere van die omgewing sê die stortingsterrein langs die S80 was vroeër ‘n oop gruisgat wat mense oor jare as stortingsterrein begin gebruik het.
Ngwathe het nadat vrae gevra is oor die lisensie, aanvanklik bevestig dat hy lisensies vir al sy stortingsterreine het, met die uitsondering van Parys en Koppies waarvoor die munisipaliteit permitte het, maar het in Junie sedert die probleem met die lisensie aan die lig gekom het, dringende gesprekke met Destea gevoer.
Mothamaha het vroeër ook genoem dat Destea besig is met sy ouditproses by stortingsterreine, en daarom voortgegaan word met werk by die stortingsterrein om gehoor te gee aan die veiligheidsvereistes van Destea, maar ook die ouditeur-generaal se verslag waarin gesê is dat die munisipaliteit sy stortingsterreine moet onderhou.
‘n Kontrakteur wat die terrein moet omhein en skoonmaak, en ablusie en sekuriteitsgeriewe moet aanbring, is vroeër teen ‘n koste van R1.6m aangestel en moet die kontrak tussen Julie en Oktober voltooi wees. Tydens verlede week se besoek van die munispale bestuur aan die terrein, is inspeksie gedoen van die kontrakteur se vordering.

Boere en grondeienaars wat daagliks van die S80 gebruik maak, het vroeër gesprekke met die munisipaliteit gevoer oor die stortingsterrein langs dié pad wat vir jare ‘n seer oog is, en ‘n ernstige brandgevaar inhou, veral nou gedurende die brandseisoen. Die haglike toestand van die terrein, het in die verlede groot skade weens brande veroorsaak. Dit het boere toe genoodsaak om self die terrein teen groot koste uit eie sak skoon te maak, walle te stoot, te omhein, en selfs borde op te sit om mense te waarsku teen onwettige storting.

Die ingang van die stortingsterrein is toe ook met goedkeuring van die munisipaliteit geskuif van die S80 na die R59-kant van die terrein. “Dit het aansienlike verligting gebring, maar nie vir lank nie, omdat die munisipaliteit nie die stortingsterrein beheer het nie,” sê boere.
Die huidige stortingsterrein is langs een van die toegangsroetes na die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied hoewel dit buite die buffersone en kern van die Vredefort Koepel val.



