Local newsNews

Vogtigheid in die huis ‘n risiko vir swamme

Indien jy langdurige blootstelling vermoed, raadpleeg jou dokter vir ’n deeglike ondersoek. Met vroeë ingryping is dit moontlik om komplikasies te voorkom en lewensgehalte te verbeter.

Swamspore is oral om ons, en skimmel kan vinnig ontwikkel in klam areas van die huis – dikwels ongemerk en buite sig. Bewustheid en voorkoming behoort vir almal ’n prioriteit te wees, aangesien langdurige blootstelling aan skimmel moontlik langtermyn gesondheidsimpakte kan hê, veral vir mense in risikogroepe.

“Blootstelling aan skimmel, veral in swak geventileerde binne-omgewings, kan verskeie gesondheidsimptome veroorsaak — veral by mense met onderliggende respiratoriese toestande, allergieë of verswakte immuunstelsels,” waarsku Dr Raisa Bhikoo, ’n pulmonoloog en spesialisgeneesheer by Netcare N1 City Hospitaal.

“Dit is belangrik om te besef dat hoewel skimmel simptome by baie mense kan veroorsaak, die erns en aard van die reaksie sterk kan verskil na gelang van ’n individu se gesondheid en blootstelling. Selfs sonder ’n formele diagnose kan aanhoudende laegraadse simptome soos moegheid, hoes of sinusdruk ‘n invloed hê op jou daaglikse funksionering en geesteswelstand,” sê sy.

Algemene skimmel-verwante simptome sluit in:

  • Boonste lugwegsimptome soos neusverstopping, nies, loopneus, seer keel en sinusdruk.

  • Onderste lugwegsimptome soos hoes, piepende asemhaling, kortasem en borsdruk – veral by mense met asma of chroniese longsiekte.

  • Oog-, vel- en keelirritasie, wat soos ’n brandende of jeukende sensasie kan aanvoel.

  • Verergering van asma of allergiese rinitis.

  • Moegheid en algemene swakheid is ook gerapporteer met langdurige blootstelling aan skimmel.

“Voortgesette blootstelling kan aanhoudende inflammasie van die sinusse of lugweë veroorsaak, wat kan lei tot chroniese sinusitis, nasale poliepe of nuwe aanvang van allergiese rinitis by vatbare individue,” voeg Dr Bhikoo by.

“In seldsame gevalle, veral by mense met ernstige immuunonderdrukking soos orgaanoorplantingspasiënte of dié op chemoterapie, kan blootstelling aan sekere swamspesies soos Aspergillus lei tot aspergillose — ’n indringende swaminfeksie wat ’n mediese noodgeval is.”

Vier leidrade dat simptome dalk met skimmel verband hou:

  1. Waar gebeur dit? Indien jou simptome vererger in ’n spesifieke omgewing (bv. jou huis of kantoor) en verbeter wanneer jy die area verlaat, kan skimmel ’n rol speel.

  2. Wanneer het dit begin? Aanhoudende neusverstopping, hoes of sinusprobleme wat nie met normale behandeling verbeter nie, veral in reënseisoene of klam omgewings, kan op skimmel dui.

  3. Wie anders word geraak? As ander mense in dieselfde omgewing soortgelyke simptome toon, versterk dit die vermoede van ’n omgewingsfaktor soos skimmel.

  4. Sigbare tekens: Waterbeskadiging, mufreuke of sigbare swamgroei is belangrike aanduiders.

Risiko vir sekere groepe is hoër:

  • Asma: Swamspore kan aanvalle veroorsaak of vererger.

  • Allergiese rinitis of sinusitis: Blootstelling aan skimmel kan simptome soos nies en jeukende oë vererger.

  • Verswakte immuunstelsels: Mense met HIV, kankerbehandeling of immuunonderdrukkers is meer vatbaar.

  • Chroniese longtoestande: Soos COPD of brongiektase.

Bestuur van skimmelprobleme behels tweeledige benadering:

  • Mediese behandeling van simptome.

  • Identifisering en uitskakeling van die bron van skimmel.

Wenke om skimmel tuis aan te pak

  • Vermy die area indien moontlik.

  • Laat vars lug in deur vensters oop te maak.

  • Gebruik byvoorbeeld waaiers om vog te beheer (hou dit onder 50%).

  • Kyk vir lekkasies in dakke, pype of vensters.

  • Droog waterbeskadigde areas binne 24–48 uur.

Maak klein areas veilig skoon:

  • Gebruik seep en water of verdunde bleikmiddel (1 koppie op 3,7 liter water).

  • Moenie poreuse materiale soos matte probeer red nie — vervang dit eerder.

Raadpleeg kundiges vir groter probleme:

  • As skimmel ’n area groter as 1m² dek of aanhoudend terugkeer.

Hou jou gesondheid dop:

  • Raadpleeg ’n dokter indien jy respiratoriese simptome ontwikkel of bestaande toestande vererger.

Vroeë aksie kan ernstige gevolge voorkom – moenie skimmel ignoreer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button