Local newsNews

Vlakvark se kerkkuier kortgeknip

Omdraaikans was daar nie vir hom toe hy eers sy kop deur die hek gedruk het.

‘n Vlakvark by ‘n kerk. Nooit gesien nie, sal jy sê. So het ouers en studente van die Parys 20 Four 7 Trampolien gimnastiekklub ook gedink..  Lilly de Beer, een van die ouers vertel  dat sy Donderdagmiddag voor die NG gemeente Parys-Oos se hek parkeer het om haar kinders wat gimnastiekklas in die kerksaal het, op te laai.

Skiellik het sy die swart streep sien verbykom en toe die slag gehoor. Haar eerste gedagte was dat dit ‘n hond was, vertel sy, maar toe sy mooi kyk – sien sy die vlakvark wat hom in die hek vasgeloop het. Met sy kop wat tussen die staal van die hek vasgesit het, het dié kuiergas behoorlik soos ‘n maervark geskree terwyl hy met sy pote gestoei het om homself te probeer loskry.

Lilly het dadelik gaan help. “Ek het eers probeer om sy voete onder hom uit te kry sodat hy ophou spartel,” maar hy was té sterk, vertel sy. “Toe het ek hom probeer kalmeer want hoe meer hy spartel, hoe seerder maak hy homself,” het Lilly vertel.

Toe hulle nie sy kop tussen die staal kon uitkry nie, het Lilly haar man, Arnold, gebel, wat toe nog in die dorp was. Die egpaar is van Vintaga Yard buite Parys.

Die vlakvarkie se voete is vasgebind en die staal weggedruk om hom uit te kry, maar die oomblik toe vark se kind op die bakkie gelaai is sodat die De Beers hulp kon gaan kry om sy wonde te  versorg, het vark se kind met die ratsheid van ‘n wafferse gimnas van die bakkie af gespring en die hasepad gekies in die rigting van Oranjestraat. Die tou nog om sy been.

Maar anders as die spreekwoordelike kat wat weer kom, is die vlakvark nog nie weer by die kerk gewaar nie.

Die vlakvark waar hy met sy kop in die kerk se hek vasgesit het.

Dit was ook nie die enigste ongewone kuiergas dié week in Parys nie. Maandag het Magda Venter van Bredellstraat ‘n likkewaan in haar tuin gekry.

Die onverwagse besoeker het so rondom 12:00 die middag gaan inloer. Magda vertel sy en haar ma het skottelgoed staan en was toe hulle hoor hoe die hoendertjie in die erf  te kere gaan  Magda was net betyds om die lang bek en stert van meneer die likkewaan te sien.

In die sekondes wat sy in die huis in is om haar selfoon te gaan haal, het hul besoeker koers gekies, en het sy gehoor hoe die bure agter haar na Tweedelaan se kant toe, se honde te kere gaan. Dié het die onwelkome besoeker in ‘n hoek vasgekeer waar hy  eers in ‘n boom skuiling gesoek het en toe oor die heining na ‘n buurerf is. Nodeloos om te sê dat ook hy skoonveld is.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button