Wêreldbekroonde Ndlovu Jeugkoor in Sasolburg gehoor
"Ek glo regtig daar is baie meer wat ons as Suid-Afrikaners verenig as wat ons verdeel. My hoop is dat mense ons konsert verlaat met ’n hernieude gevoel van optimisme – nie net vir Suid-Afrika se toekoms nie, maar ook vir die ongelooflike potensiaal van ons jeug."
Die bekende en uiters talentvolle Ndlovu jeugkoor wat gereeld in die buiteland gehoor word,. en vanjaar ook hul spesiale Heritage Tour, aangebied deur Jacaranda FM na Suid-Afrikaanse gehore bring, kan op 21 September om 14:00 en 17:00 by die Etienne Rousseau teater in Sasolburg. gehoor word.
Die koor is in 2009 gestig en het sedertdien al verskeie prestige toekennings plaaslike en internasionaal ontvang. Ralf Schmitt is die koordirigent en artistieke direkteur.
Schmitt vertel die konsert is die laaste stop van die toer voordat die koor op Erfenisdag (24 September( by die SunBet Arena in Pretoria optree. Die doel van die toer was om die produksie, wat onlangs uitverkoop het by Carnegie Hall in New York, na kleiner dorpe regoor Suid-Afrika te bring.
‘”Ons is geweldig trots op ons land, wat soveel onontginde potensiaal het – veral onder jong mense. Omdat al ons koorlede uit ’n klein dorpie in die landelike gebied van Limpopo kom, het ek gevoel dit is noodsaaklik om ons produksie verder as Johannesburg en Kaapstad te neem en ’n wêreldklas-vertoning op die platteland aan te bied. Ons sien daarna uit om in Sasolburg te wees,” het Schmitt in ‘n onderhoud met Gazette gesê.
Schmitt sê konsertgangers by die Etienne Rousseau-teater sal kan uitsien na ’n vrolike, gesinsvriendelike vertoning wat die beste van Suid-Afrikaanse musiek kombineer met vars interpretasies van klassieke liedere van regoor die wêreld. Met kragtige, ryk harmonieë, hoogs energieke choreografie en kleurvolle kostuums, sal die vertoning vol kleur, ritme en verrassings wees.
“Vir my gaan hierdie toer oor baie meer as net konserte – dit is ’n geleentheid om te vier wie ons as Suid-Afrikaners is. Ek herinner ons koorlede altyd dat ons moet streef daarna dat elke optrede nie net artistiek van wêreldgehalte moet wees nie, maar ook mense se harte moet raak en emosies van hoop, eenheid en trots moet aanwakker. Ons grootste doel is om te bemoedig en te inspireer, sodat almal die teater verlaat met ’n glimlag, geraak, en trots op ons gedeelde erfenis,” sê Schmitt.

Kaartjies vir die Ndlovu koor se optrede by die Etienne Rousseau-teater is op Webticket beskikbaaar.



