Bestuurslisensiehernuwing: Wat het jy nodig
Deur vooraf seker te maak al jou nodige papierwerk is reg en dat jy jou aansoek betyds indien, kan jy jouself baie tyd en onnodige frustrasie en bekommernis spaar.
As dit tyd is vir jou vyfjaarlikse lisensiehernuwingsaansoek is dit belangrik om seker te maak jy neem die regte dokumente saam. Sodoende spaar jy jouself baie tyd en frustrasie.
Hierdie dokumente is nodig:
- Jou oorspronklike ID-dokument sowel as ‘n gesertifiseerde afskrif van jou ID-dokument.
- Jou oorspronklike bestuurslisensie.
- Jy benodig vier ID-foto’s. Fasiliteite vir die neem van ID-fotos is dikwels op lisensiekantoorpersele beskikbaar. Maak seker jy neem kontant saam as jy ID-foto’s moet laat neem.
- Bewys van adres. Onthou die bewys mag nie ouer as drie maande wees nie en moet gesertifiseer wees. As jy geen bewys van adres het nie, kan jy ook ‘n gestempelde en gesertifiseerde bankstaat saamneem waarop jou adres verskyn as bewys van adres.
- Jy kan ‘n sertifikaat van jou oogkundige saamneem hoewel ‘n oogtoets deur personeel by die toetssentrum tydens jou aansoek gedoen sal word.
- Lisensiekantore gebruik kaartlose betalings. Jy sal dus jou bankkaart moet saamneem om vir die hernuwingsaansoek te betaal.
Wat is die prosedure wat gevolg word by die lisensiekantoor:
- Jy sal die nodige aansoekvorm moet voltooi wat beskikbaar is by die lisensiekantoor.
- Daarna sal personeel jou oogtoets doen, vingerafdrukke neem en sal jy ook jou elektroniese handtekening gee.
- Al die nodige vorms, afskrifte, fotos en bewys van adres word dan ingehandig waarna jy ook die betaling sal maak.
Maak vooraf seker watter ure die lisensiekantoor oop is en hou in gedagte dat dit kan gebeur dat die stelsel van lyn af is wat sal beteken dat jy moet wag of dalk moet teruggaan by ‘n latere geleentheid.
Gaan betyds:
Daar is tans ‘n groot agterstand met die druk van lisensiekaarte. Daarom moet jy seker maak dat jy nie op die nippertjie gaan nie. Goeie raad is om minstens ses weke voor die tyd jou aansoek in te gee. Sodra jou lisensiekaart gereed is, sal personeel jou in kennis stel.



