Local newsNews

‘Huiskoper’ swaar gevonnis ná hy egpaar vermoor

Smith het die huis geteiken nadat hy foto's daarvan op 'n aanlyn advertensie gesien het.

Die man wat ‘n egpaar wreed met ‘n mes in hul huis vermoor het nadat hy hom as ‘n potensiële huiskoper voorgedoen het, is vandag twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord op ‘n 47-jarige egpaar. Die hof het Raymond Steven Jan-Erick Smith (37) van Proklamasieheuwel ook ‘n bykomende drie jaar tronkstraf vir poging tot moord op die egpaar se minderjarige seun, en agt jaar tronkstraf vir poging tot roof met verswarende omstandighede, .opgelê. Die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien word.

Smith is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die tragiese gebeure op 27 Januarie vanjaar het gevolg nadat Smith die huis van R2,7 miljoen van die seun se bejaarde grootouers  in ‘n aanlyn advertensie geadverteer gesien het.  Die advertensie het verskeie televisies en elektroniese toestelle vertoon wat sy aandag getrek het.

Smith het toe die eiendomsagent gekontak onder die voorwendsel dat hy ‘n moontlike koper is.  Hy het die huis in Lyttleton op 16 en 20 Januarie gaan ‘besigtig’. Op 27 Januarie is hy om 18:00 die aand ‘n derde keer na die huis – die keer met die doel om die egpaar te beroof.

Toe die bejaarde 74-jarige oupa van die seun die deur oopmaak, het Smith hom aangerand, na die toilet geforseer en sy hande met ’n kabelbinder vasgemaak. Die bejaarde man se 71-jarige vrou wat die lawaai gehoor het, het ondersoek gaan instel, maar Smith het haar oorweldig, vasgebind en  rubberballe  in beide van hulle se monde gedruk. Die egpaar se seun en sy vrou, wat op dieselfde perseel gewoon het, het die geskree gehoor en die huis binnegestorm. Smith het hulle met ’n mes aangeval en albei noodlottig gewond ten aanskoue van hul 16-jarige seun wat hulle te hulp wou snel, en toe self ook deur Smith gewond is.

Die seun kon egter onsnap en het homself in sy slaapkamer toegesluit en hulp ontbied.

Smith het gevlug maar is die volgende dag, 28 Januarie, by sy woning gearresteer terwyl hy sy bebloede klere probeer was het.

Raymond  Smith (37) is vandag onder meer tot twee keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op ‘n Pretoriase egpaar. Foto: Verkaf

Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag:, Gauteng-afdeling: Pretoria, sê Smith het skuld erken en om ’n ligter vonnis gepleit. Advokaat Lawrance More, vir die staat, het egter suksesvol vir lewenslange gevangenisstraf geargumenteer. Hy het beklemtoon dat die moorde vooraf beplan is, dat Smith verskeie geleenthede gehad het om sy plan te laat vaar, maar steeds voortgegaan het, en dat die slagoffers in hul eie huis vermoor is – ’n plek waar hulle veilig moes wees.

Die hof het ook slagoffer-impakverklarings (SIV) oorweeg, gefasiliteer deur hofvoorbereidingsbeampte Lebogang Lebese. Die 16-jarige seun  het die ernstige trauma wat hy ervaar het, onthul, insluitend dat hy van skole moes verander wat sy akademiese prestasie nadelig beïnvloed het. Sy oupa wat oorleef het, het drie weke in die hospitaal deurgebring en is steeds onbeweeglik weens sy beserings, sê Mahanjana.

Die regter het beslis dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was om ’n ligter vonnis te regverdig nie.

Die Waarnemende Direkteur van Openbare Vervolging (WDOV), Advokaat Marika Jansen van Vuuren, het advokaat More en speurder Konstabel Ronald Ravele van die Lyttleton-polisiestasie geloof vir hul toewyding wat die skuldigbevinding en vonnis van ’n man verseker het wat onskuldige mense uit gierigheid vermoor het.

Mahanjana het bevestig dat die  NVG se Eenheid vir Bateverbeuring ’n bewaringsbevel bekom het vir Smith se 2011-model Nissan X-Trail, ter waarde van R65 000, wat gebruik is tydens die misdade.

  • Die name van die slagoffers en oorledenes word nie genoem nie om die identiteit van die minderjarige seun te beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button