Local newsNews

Afrikaans galop té lekker – nie vir 44 nie, maar duisende wat trots deel

Die video van die sanggroep se optrede het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.

Trots vir die Afrikaanse taal het galop in harte van konsertgangers in die klein plattelandse dorpie Vredefort, toe Hoërskool Parys se Take Note-sanggroep met ‘n besondere verwerking van die Afrikaanse Volksliedjies, Ou Ryperd en Blinkvosperd, en Johannes Kerksorrel se Halala Afrika, die 100 jaar bestaan van Afrikaans gevier het. Sedert die konsert wat op 31Augustus gehou is, het ‘n video-opname van hul optrede met die Ou Ryperd-medley, ook ‘n wilde galop op sosiale media platforms gemaak met meer as 25 000 mense wat teen Dinsdagoggend al die video gekyk het.

Dié oorweldigende reaksie het, Marli Krüger, afrigter en dirigent van die sanggroep nie verwag nie. “Ek was verstom” sê sy.

Marli het die verwerking van die Medley oorspronklik vir die sanggroep se deelname aan die Animato kompetisie vir sanggroepe in 2019 gedoen. By dié kompetisie het die sanggroep met vier toekennings weggestap – onder meer as die Mees Belowende Sanggroep en vir die beste Afrikaanse Verwerking.
Marli vertel dat sy die sanggroep in 2 000 by die skool begin het nadat die skool aanvanklik eers ‘n skoolkoor gehad het. Met ‘n kleiner sanggroep kon die begaafde Engelse juffrou wat musiek studeer het en verskeie instrumente bespeel, haar liefde en passie vir musiek behoorlik uitleef.

Die groep bestaan uit tussen 14 en 20 kinders van graad 8 tot 12. Om deel te word van die sanggroep moet die kinders eers ‘n oudisie doen, en moet jy baie goed kan noot hou, vertel Marli.

Die Afrikaans 100-konsert was ‘n projek van die ATKV Vredefort Koepel-tak, en het die NG Klipkerk ‘n besondere akoestiek. Die kerk is bekend vir die uitstaande musiekkonserte wat gereeld hier aangebied word. Vir Take Note was 2019 ‘n hoogtepunt-jaar, sê Marli, maar toe kom Covid. Koorsang was van die laaste goed wat uiteindelik na die pandemie weer toegelaat is./ Maar toe moes die groep van voor af weer opgebou word. In 2024 toe die sanggroep weer op dreef was, was tagtig persent van die sanggroep matrieks, en moes Marli weer voor begin.

Aan die begin van die jaar het sy die Ou Ryperd-medley afgestof en is daar begin oefen vir die Afrikaans 100-konsert. Vir ‘n uur lank twee keer ‘n week hoor jy die hemelse stemme in harmonie saam as daar geoefen word.

Die Take Note sanggroep se optrede met die Rydperd-medley het sosiale media soos ‘n storm getref met duisende wat trots die video gedeel het.

Vir die medley hoor jy tussen drie en vyf stemgroepe saam. Met meer informele sanggroepe is daar ook meer ruimte vir beweging saam met die sang, verduidelik Marli.

Musiekverwerking is Marli se passie. As skolier aan die Hugenote Meisieskool het Marli al koorverwerkings gedoen.

Marli Krüger het die sanggroep destyds begin en is steeds hul afrigter.

Naas Take Note is sy vir jare saam met Erna Rademan betrokke by die gemeenskapskoor, Deo Gloria.
Erna het ook die sanggroep met die Afrikaans 100-konsert begelei.

Koormusiek is ‘n totale gelykmaker vertel Marli. “Jy sing met een gemeenskaplike doel – die magic van saamsing. “Daardie magiese oomblik as vier of vyf stemme saamkom en dit werk. Die vreugde op daardie kindergesigte kan jy nie beskryf nie.”Saamsing maak hul diep gelukkig, sê Marli, en jy hoor dit as jy jou verluister aan die video wat jy vir die soveelste keer kyk, en die kommentaar lees – ook van oud-sanggroeplede wat weer dié lekker van koorsing uit hul skooldae herleef.

“Koorsang is die beste anti-depressant. Al was die dag hoe sleg. As die kinders na ‘n oefening uitstap is hulle happy – asof jy ‘n towerstaf geswaai het.” gesels Marli,

“Vir my is hierdie ‘n saak van die hart,” sê sy, want “die lekker van koorsing is dat niemand solo’s hoef te wees nie. Die grootste uitdaging is om die kinders te leer om klank te laat saamsmelt.”

En dit kry dié juffrou reg met die lied wat sy in harte wakker maak met haar passie vir musiek.

Luister na die video-opname by die skakel hieronder

https://www.facebook.com/share/v/1ZWBmZq5DX/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button