Local newsNews

Bek-en-klou: Pleidooi vir beter samewerking en privatisering

Onder bestaande wetgewing mag slegs die staat entstowwe teen Bek-en klouseer hanteer, wat die reaksietempo vertraag en die ekonomiese risiko vir boere vergroot

Terwyl die aantal gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat nou tot 30 gestyg het, is beter samewerking tussen die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, met munisipaliteite, die SAPD en geraakte gemeenskappe bepleit om die verspreiding van die siekte te bekamp.

Dertien nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die provinsie is sedert verlede week deur die provinsiale departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling bevestig, maar word Parys nie geraak nie.

Uitbrake van die siekte is tans in ses distrikte oor vyf plaaslike munisipale gebiede versprei. Die gebiede wat die ergste geraak is, is Kroonstad (Moqhaka-munisipaliteit) met nege bevestigde gevalle, Viljoenskroon (Moqhaka-munispaliteit) met 11 bevestigde gevalle, Cornelia/Frankfort (Mafube-munisipaliteit) met ses bevestigde gevalle, Heilbron (Ngwathe-munisipaliteit) met twee gevalle en Deneysville (Metsimaholo-munisipaliteit) en Odendaalsrus (Matjhabeng-munisipaliteit) met elk een bevestigde geval.

Die departement sê vaksinering op geïnfekteerde plase is geprioritiseer en onmiddellik toegedien om die virale lading en verdere verspreiding van die virus te beperk. Vier gemeenskaplike weidingsgebiede is onder die geaffekteerde gebiede wat deur die huidige uitbrake geaffekteer word. Die gebiede bring bykomende uitdagings vir beperking van beweging en die toedien van vaksinering, met die deel van weiding en gebrek aan voldoende omheining van die gebiede.

Die departement sê hoewel vaksinering die risiko vir die verspreiding van die virus drasties verminder, het dit die virus nog nie geïlimineer nie.
Daar is ‘n beroep gedoen op vee-eienaars om waar bewegingsbeperkings ingestel is, dit na te kom en gevalle van die siekte onmiddellik aan te meld omdat bek-en-klouseer ‘n aanmeldbare siekte is.

Waar gevalle van die siekte bevestig word, word bewegingsbeperking op alle plase binne ‘n 10km radius van die plaas/weidingskamp waar gevalle van die siekte bevestig is, ingestel. Geïnfekteerde plase word ook onder kwarantyn geplaas, terwyl alle naburige plase/gemeenskaplike weidings van die bevestigde geval in kennis gestel moet word, en onder voorkomende kwarantyn geplaas sal word totdat ondersoeke na die bevestigde geval en verdere verspreiding afgehandel is.

Dr Roy Jankielsohn, die DA se woordvoerder vir landbou in die Vrystaatse Wetgewer, sê munisipaliteite in die Vrystaat het die probleem met die siekte grotendeels geïgnoreer deur toe te laat dat vee in dorpe rondloop, langs provinsiale en nasionale paaie wei, en vrylik in gemeenskaplike weiveld en oop munisipale ruimtes beweeg.

Hy sê hoewel die LUR vir die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaatse Wetgewer aangedui het dat hul veeartsenydienste aktief betrokke is by die stryd teen die siekte, is ook gesê dat vee dikwels onwettig snags op sekondêre paaie vervoer word.

Jankielsohn het sy kommer uitgespreek oor die onderbefondsing van die departement se program vir veeartsenydienste. In die 2023/2024-boekjaar is R73,7m aan dié program toegeken. In 2024/2025 het dit tot R76,6m gestyg, maar in 2025/2026 het die begroting tot R53,6m gedaal. Hierdie vermindering van fondse tydens uitbrekings van bek-en-klouseer toon nie ‘n werklike verbintenis tot die bekamping van dié en ander diere­siektes nie, het hy gesê.
In antwoord op ‘n vraag in die Vrystaatse Wetgewer het die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer aangedui dat vervoer- en veeartsenypermitte tydens padblokkades van voertuie wat vee vervoer, gevra word. Sedert Januarie het die SAPD 460 sake geopen wat onder meer verband hou met die gebrek aan nodige permitte, veediefstal en valse verklarings oor permitte.

Verslae uit geraakte landelike gemeenskappe dui egter daarop dat die SAPD meer aktief moet wees om die onwettige beweging van diere te bekamp, sê hy.
Volgens Johan Dannhauser, ‘n plaaslike beesboer van die Parys-distrik wat met Draughtmasters boer, is baie geleer uit die verlede in die hantering van ernstige en hoogs aansteeklike veesiektes soos Besmetlike Misgeboorte (BM) en Trichomoniase waar private enting en toetsing deur die staat toegelaat is. Hy meen daar is geen ander opsie as dat bek-en-klouseer dieselfde pad sal moet loop om die beheer van die siekte wat tans deur die staat gedoen word, te privatiseer om verspreiding meer effektief te kan beperk.

Die oponthoud met Bek-en-klou toetsuitslae wat tot drie weke kan neem, veroorsaak tans groot uitdagings nie net vir boere wat geraak word nie, maar ook buurplase wat aan beheerregulasies onderwerp word omdat vee nie geskuif of verkoop kan word totdat toetsuitslae bekend is en ondersoeke afgehandel is nie, sê Dannhauser.

Die staat het eenvoudig nie die kapasiteit nie, en moet die toetsproses versnel word, meen hy. Hy sê hoewel die probleem met bek-en-klouseer nie so ernstig is vir veldbeeste nie, is uitbrake ‘n groot probleem op byvoorbeeld melkplase en by varkboerderye. Hy sê boere wat nie in kwarantyn sones is nie, word tans nie tegnies deur die siekte geraak nie, hoewel ‘n negatiewe impak wel op die lewende hawe verkoopprys in die mark gesien word met boere in geaffekteerde gebiede wat nie vee kan koop nie.

Gevolglik is die vraag na diere minder, maar word steeds relatief goeie pryse vir vee op veilings behaal, hoewel nie so goed soos in 2024 nie. Slagvee word ook nie beïnvloed vir boere wat nie in kwarantyn-areas is nie.

Vir boere in areas wat nie geraak word nie, is die premie op dierepryse sterk selfs al is daar weerstand omdat verbruikers swaar trek.
Dannhauser voorspel dat pryse hoog sal bly tot middel Januarie.

Januarie is egter ‘n moeilike maand vir vleisverkope, maar tel verkope tradisioneel weer op in Februarie.

Wat is Bek-en-klouseer:
Bek-en-klouseer word deur ‘n virus veroorsaak by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke. Tipiese simptome is lusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel. Mense kan nie Bek-en-klouseer kry nie, maar dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button