Swan Lake ‘n groot eer vir jong ballerinas
Noordwes Jeugballet het in die verlede soortgelyke platforms geskep vir jong dansers, onder meer met Cinderella in 2005, Coppelia in 2010 en Sleeping Beauty in 2018.
Dertien jong ballerinas van Parys het verlede naweek die voorreg gehad om as deel van Noordwes Jeugballet hul buiging op die verhoog te maak, saam met plaaslike en internasionaal bekende ballerinas in Tchaikovsky se klassieke Swan Lake. Die produksie was te sien in die Sanlam Ouditorium in Potchefstroom.
Die jong ballerinas van Parys is leerlinge van Joyful Dance, onder leiding van Landi van der Westhuizen, en Ballet de Pointe, onder leiding van Adel van der Westhuizen. Volgens Adel is oudisies reeds in Februarie gehou, en is daar vanaf Maart ure se toegewyde oefening ingesit, ook op Saterdae en gedurende die Junie/Julie-skoolvakansie, om talent van verskeie ouerdomme uit Noordwes en die Vrystaat saam te snoer in hierdie tydlose en betowerende produksie.
Die Parys-dansers wat die geleentheid van ‘n leeftyd gekry het, was Nea Abourizk, Hesmé Smith, Elzé Sieberhagen, Ellerike van der Westhuizen, Annrika Pretorius, Liane Peens, Shae’Leigh Oosthuizen, Lara Cilliers, Bonne-Lieze Burger, Julia Dedwith, Lexi Cilliers, Carli de Jager en Rume van der Westhuizen. “Dit was wonderlike blootstelling vir die jong dansers, en ‘n voorreeg om saam met internasionaal bekende dansers op te tree,” het ‘n trotse Landi na die opvoering gesê.
Altesaam 120 dansers het aan die produksie deelgeneem, met Joburg Ballet se Savannah Ireland in die ikoniese rol van Odette, Gabriel Fernandes as Prins Siegfried, en Carl van Heerden as Von Rothbart.
Die jong Parys-ballerinas het in die meeste van die vier tonele op die verhoog verskyn.


Carli de Jager, een van die Parys-ballerinas, vertel dat sy aanvanklik senuweeagtig was om saam met professionele dansers op te tree, maar dat sy vinnig tuis gevoel het en baie nuwe vriende gemaak het.
Die Parys-ballerinas is leerders aan Primêre Skool Parys.



