Reënseisoen bring ook padveiligheidsrisiko’s
Wanneer paaie nat is, maak seker jy verminder spoed en handhaaf 'n veilige volgafstand.

Die Motor Industry Workshop Association (MIWA), waarsku motoriste om versigtig te wees en te sorg dat hul voertuie “reëngereed” is met die somerreënseisoen wat voorlê.
Volgens Dewald Ranft, voorsitter van MIWA, is die eerste reënbuie ná ’n lang droë winter berug daarvoor dat dit tot ’n styging in padongelukke lei. “Gedurende droë periodes versamel olie, brandstof en rubberdeeltjies van voertuie op padoppervlaktes. Die eerste buie maak hierdie laag los en vorm ’n byna olierige film wat paaie glad maak. Vir bestuurders kan dit voel asof jy skielik op ys ry wanneer jy rem of draai,” verduidelik hy.
Ranft waarsku dat glibberige paaie nie die enigste gevaar is nie. “Beperkte sig as gevolg van swaar reën en ruitveërs wat verweer is, is n risiko. Dit is waarom dit belangrik is om jou voertuig gereeld na te gaan.
Hy raai motoriste aan om:
-
Bande te kontroleer – Maak seker die loopvlakdiepte is voldoende, en dat bande behoorlik gepomp is is. Swak bande is een van die grootste oorsake van ongelukke in nat weer.
-
Ruitveërs te inspekteer – Vervang verslete ruitveërs om strepies en swak sig te vermy.
-
Ligte na te gaan – Hoofligte, rem- en flikkerligte moet almal in werkende toestand wees – nie net om te sien nie, maar ook om gesien te word.
-
Ontwasemers te gebruik – Hou vensters helder om sigbaarheid te behou.
Op die pad beveel Ranft aan dat motoriste spoed verminder, hoofligte aanskakel en volgafstande verleng. “Vermy skielike rem, vinnige versnelling of vinnige baanveranderinge. Hierdie bewegings kan maklik veroorsaak dat jy gly op nat paaie. Laat ekstra tyd toe vir jou rit.
Elke jaar word motoriste onverhoeds betrap deur die eerste reëns, maar ongelukke is voorkombaar.Gereeld voertuiginspeksies kan nie genoeg beklemtoon word nie.



