Local newsNews

Grapjas, poetsbakker vereer vir sy bydrae tot musiek, rolprente

'n Dokumentêre reeks getiteld, Schuster, en bestaande uit vyf episodes, begin  môre (1 Oktober) om 20:00 op kykNET (kanaal 144).

Presies drie dekades nadat “Hie’ kommie Bokke!” in 1995 tydens die Springbokke se historiese Rugbywêreldbeker-oorwinning oor die All Blacks op die destydse Ellispark in elke huis en motor opgeklink het, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ’n eretoekenning aan Leon Schuster oorhandig vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek, rolprente en radiowerk.

Hoewel dié grapjas, poetsbakker, rolprentvervaardiger en storieverteller tans gesondheidsuitdagings beleef, het die FAK hom by sy huis in Johannesburg besoek om die eerbewys persoonlik aan hom te oorhandig.

“Leon Schuster is reeds dekades lank ’n huishoudelike naam en het daarin geslaag om met sy unieke humor, liedjies en rolprente die harte van miljoene Suid-Afrikaners aan te raak. Hy het nie net vermaak nie, maar ook die Afrikaanse kultuur in sy kenmerkende styl aan ’n breër publiek bekendgestel,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die FAK.

Van rolprente soos You must be joking (1986), Oh Schucks!... Its Schuster (1989), Sweet ’n Short (1992) en Mr Bones (2001), om maar enkeles te noem, tot sy gewilde liedjies soos “Briekdans”, “Dasiefoutie”, “Die Bokmasjien”, “Pretty Kabousie”,Ag Pleeze Daddy” en “Gautengeleng” het Schuster nie net ’n nasionale legende gemaak nie, maar keer op keer gewys dat hy mense se taal en gees verstaan, sê Brand.

Met die oorhandiging van die toekenning het die FAK sy waardering uitgespreek vir Schuster se volgehoue werk om die Afrikaanse taal en kultuur op ’n toeganklike en vreugdevolle manier te bevorder.

Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, is dit ’n reusevoorreg om Schuster te vereer: “Om ’n baanbreker en ’n uiters veelsydige vermaaklikheidskunstenaar te vereer vir sy bydrae van meer as 50 jaar in verskeie mediums, is vir die FAK ’n reusevoorreg. Hy is ’n onmisbare deel van die Afrikaanse  en Suid-Afrikaanse landskap en deur en deur ’n legende.”

Hoewel Schuster se gesondheid hom tans verhinder om groot byeenkomste by te  woon, was sy dankbaarheid oor die toekenning duidelik. Hy het die FAK se besoek as ’n diep persoonlike bemoediging beleef en sy waardering uitgespreek vir die liefde en erkenning wat hy uit die gemeenskap ontvang.

Volgens Schuster wil hy graag onthou word as iemand wat vir Suid-Afrikaners vreugde gebring het. “Wat mense bymekaargebring het. Daar is niks beter as om iemand te laat lag nie,” sê hy.

Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK oorhandig ‘n prestasietoekenningaan Leon Schuster. (Foto: Sallas de Jager)

Schuster is ook onlangs op kykNET se Silwerskermfees vir die rolprent- en TV- bedryf vir sy lewensbydrae tot die vermaakbedryf vereer.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button