Gemeenskap se harte en hande oop vir AMOT se bejaardes
Dankie vir 'n gemeentskap se omgee vir die bejaardes van Parys.
Die gemeenskap van Parys se harte en hande is oop vir bejaardes van AMOT, en het dié tehuis onlangs nie net ‘n gholfdag gehad nie, maar ook sy eerste baie suksesvolle Kierie-kekkel- en kuierfees aangebied.
Potjies het geprut, die tafels het gekreun onder die lekkernye, en oud en jonk het saam gekekkel en gekuier om as inwoners en kinders van die bejaardes van die tehuis, die dag saam te kon vier.
Maar dit was veral die trekker treintjierit wat deur die Hervormde Kerk aangebied en geborg is, met sy kleurvolle waens wat elke kort-kort op die roete al om die tehuis gesien is, wat vir groot pret vir oud en jonk gesorg het.
Matrone Teresa Broodryk vertel dat die ouer/kind dag by die tehuis elke twee jaar gehou word wanneer ‘n groot geleentheid daarvan gemaak word vir kinders om die dag saam met hul ouers wat inwoners van die tehuis is, te kan spandeer. Vanjaar is die hekke egter
oopgemaak toe besluit is om dié dag te kombineer met ‘n heerlike fees waar ook die gemeenskap van Parys kon kom saamkuier.

“Ek kry eintlik hoendervleis as ek dit vir jou moet vertel. Omtrent alles is vir die fees geskenk,” het matrone Broodryk gesê en haar dank teenoor die gemeenskap, sakelui en kerke uitgespreek wat gegee, gebak en gebring het om van die dag ‘n baie groot sukses te kon maak.

Fondse wat met die fees ingesamel is help weer met instandhouding en waar behoefte is of ‘n bederf nodig is vir die tehuis se bejaardes.


Die tehuis se gholfdag was by Parys Golf & Country Estate gehou, en was Coenraad de
Jager en sy span die wenners van die dag. Die tehuis sê dankie aan elkeen wat die gholfdag ondersteun en bygedra het.





